News

Wat Parysenaars die meeste op die winkelrakke mis

Gazette het Parysenaars gevra wat hulle die meeste mis gedurende die staat van inperking. Twee dinge waaroor beslis saamgestem word, is kinderklere en hardeware. Hoewel daar verlede week ‘n verslapping in die regulasies aangekondig is wat jou toelaat om kinderklere vir kinders tot en met 36 maande te koop by winkels wat reeds hul deure …

Gazette het Parysenaars gevra wat hulle die meeste mis gedurende die staat van inperking. Twee dinge waaroor beslis saamgestem word, is kinderklere en hardeware.
Hoewel daar verlede week ‘n verslapping in die regulasies aangekondig is wat jou toelaat om kinderklere vir kinders tot en met 36 maande te koop by winkels wat reeds hul deure mag oophou vir essensiële produkte, help die toegewing Parysenaars nie veel nie.
Hier is nie apteke of kruidenierswarewinkels in die dorp wat kinderklere verkoop nie. Laat staan nog klere vir swanger vroue, sê lesers. Hoewel daar winkels in Potchefstroom en Vanderbijlpark is wat kan help, moet jy oor provinsiegrense beweeg wat tydens die staat van inperking nie sonder die nodige permitte of magtiging toegelaat word nie.

Boonop het jy al die tyd op hande om jouself met nutstakies by die huis besig te hou, maar nie toegang tot verf, deurknoppe, kwaste, pype, hakkies, skroewe, of wat ookal jy nodig het van die hardewarewinkels om dié takies te kan verrig nie.
Jy kan immers net soveel koek bak en fliek kyk, meen lesers.
Materiaal, wol en naaldwerktoebehore kan jy nie kry nie, en is brei en hekel uit tensy jy nog afval wol het.

So ook sukkel baie met ink vir hul drukkers.
Talle kinders moes sonder ‘n geskenkie verjaardag hou omdat daar nie speelgoed te koop is nie, en selfs diegene wat nog internetdienste moes installeer voor die inperking nadat daar verhuis is, kan ook nie nou gehelp word nie.

Ander sukkel met internetlyne en data juis noudat  al meer skoolwerk op digitale platforms gedeel word.
Daar is diegene wat alkohol en sigarette mis, kontaklense en die dienste van ‘n oogarts, asook wegneemetes. Maar hoe dit ookal sy – vir baie was die grootste bekommernis nie wat nié gekoop kan word nie, maar waar die geld vandaan gaan kom om aan die einde van die maand finansiële verpligtinge na te kom, werkers se salarisse te betaal, en kos op die tafel te sit. Des te meer in ‘n dorp wat staatmaak op toerisme vir oorlewing.

 

 

Related Articles

Back to top button