NewsNews

Isolasie inspirasie: Leef met minder – en meer dankbaar

Isolasie inspirasie: Leef met minder - en meer dankbaar

Dis alweer naweek, nog ’n week is verby. Nou kan ons die keuse maak – gaan ons dankbaar wees dat ons gesond is, en veilig by die huis, of gaan ons negetief wees oor omstandighede waaroor ons geen beheer het nie.
In hierdie tyd is ons grootste geveg om positief te bly. Die spreekwoord sê dat ons ons moet omring met positiewe vriende, maar nou is daar geen vriende naby nie. Hoe bly ons positief? Die antwoord is ongelukkig nie eenvoudig nie. Ons gaan stap vir stap die berg moet klim. Dis ongelukkig nie vakansie nie.

Dit is vir nou ons almal se nuwe normaal. Vermy pajamadag. Trek aan, sit jou gesiggie op, en maak jou hare mooi. Manne – dis nie Mo-Vember nie. Skeer en bly in ‘n roetine.

Vandag wil ek met julle ‘n koskas- en beursie-wenk deel. As jy jou etes beplan sou ek voorstel dat jy fokus op aandete of middagete resepte met so min as moontlik bestanddele. Wees baie versigtig om nie te val vir al die nageregte of gebakte poedings op sosiale media nie. Dit gebruik gewoonlik baie bestanddele – en dikwels duur bestanddele. Probeer om resepte te vermy met kaas, botter en room. Hier by ons het dit baie vinnig van die rak af verdwyn.

Jy wil jou gesin voed met gesonde kos.  Lekkernye hou hulle die hele dag honger en dan wil hulle nog ‘n bord kos ook eet. Jy wil hulle immuunstels gesond hou, d.w.s. jy wil suiker so laag as moontlik hou.
As jy bestanddele kort – bly daarsonder as jy kan, of dink hoe jy dieselfde resep kan verander met dit wat jy het. As jy lus is vir frikkadelle en jy het net hoenderborsies, kap dit fyn en maak jou eie weergawe.

Jy het op die oomblik geen idee hoe lank almal nog gehok gaan wees nie. Jy weet ook nie hoe die situasie in die supermarkte gaan verander nie. Produkte word duurder, jou bewegings word al hoe meer ingeperk. Die paniek tref ‘n mens gewoonlik as jy nie beplan het nie.
Wat ek en Johan wel geleer het in ons 60 dae plus van inperking, was dat ons met ‘n derde van ons kruideniers kon klaarkom. Ons moes ons beursie baie mooi beplan.

Van dag een af het Johan gesê bly by die basiese kos. Ons het die meeste van die tyd hoender en vars groente gehad. Ons het ons etes beplan en eenvoudig by dit gebly. Na 78 dae is ons so gewoond daaraan dat ons nog steeds dieselfde goed koop. As mens wil ons verskeidenheid hê, maar wat as so ‘n basiese luukse van keuse net eenvoudig verdwyn?
“Back to basics” is DIE belangrikste les wat ons kan leer. Leef en wees tevrede met minder. Wees dankbaar vir dit wat jy het. Doen wat jy moet doen vir nou.

Ons koslys in hierdie 60 dae was so eenvoudig:
1. Vleis – Hoenderborsies, boudjies en hartjies, eend (soms)
2. Eiers
3. Groente wat ons gevries het – patats, wortels, kool en groenboontjies.
4. Groente wat ons gepiekel het – broccoli, wortels, uie, knoffel en komkommers.
5. Groente aangekoop volgens beskikbaarheid – broccoli, groenblaar groete, groenbone, blomkool, komkommers, knoffel en uie.
6. Amandelmelk en hawermout – geen kaas, botter, margarien of melk was beskikbaar nie.
7. Gemmer en suurlemoen – ons het dit gedrink soos tee.
8. Rou grondboontjies – ons het selfs geleer om ons eie grondboontjiebotter te maak.

 

 

 

Related Articles

Back to top button