News

Harte oop vir motorwagte, dagwerkers, en hulle in nood

Harte oop vir motorwagte, dagwerkers, en hulle in nood

Terwyl die afgelope paar weke se inperking vir baie Suid-Afrikaners alreeds geweldige ekonomiese onsekerhede en uitdagings ingehou het, word ook inwoners van die Glenifer Huis swaar geraak wat afhanklik is van ‘n daaglikse inkomste as motorwagte en dagwerkers in die dorp.
Tog is dit juis in hierdie tyd wat Parysenaars weer gewys het hoe oop hul harte is vir hulle in nood.
Die Red Ribbon gemeenskapsinisiatief het sedert die begin van die inperking uitgereik na Glenifer, maar ook sovele ander in nood.
Die projek is begin deur Lourens en Tania Janse van Rensburg van Wesleys Parys.
Die projek behels dat mense ‘n rooi lint aan die heining voor hul huis kan vasmaak as daar voedsel benodig word, ‘n geel lint sou daar nood wees vir kos vir troeteldiere, en ‘n groen lint as jy voedsel het om vir die projek te skenk. Geen fisiese kontak – net die toeter wat geblaas word wanneer voedsel opgelaai, of voedsel afgegee word.

Daar is talle hande wat help om die projek te koördineer, sop te kook of selfs bababenodigdhede bymekaar te maak. Mense soos Sonja Hugo, Bernice Salmon, Wanda du Preez, Petro Serfontein, Marlize Willemse, Gerda Jones, Amelia Joubert van Zyl, CSS Sekuriteit; Charl Vosloo, Sonja Ferreira, Juandre Pretorius, Louw van Aard, Martin Oosthuizen, Werner van der Poll, Marietjie Olivier en Riaan Booysen.
Die sopprojek het voortgevloei uit die Red Ribbon-inisiatief juis omdat die nood so groot en dringend is. Daar is gevra vir skenkings vir sopbestanddele en sedertdien is van koekmeel en gis, tot selfs ‘n eland vir die projek geskenk. Mense kan letterlik enigiets bydra, maar dit is veral blikkies nie-bederfbare voedsel, bone, vars groente, sopmengsel en pakkies sop, asook bababenodigdhede waarvoor daar groot nood is. Of dalk kan jy help met bakke (1kg-5kg) om die sop te verpak.
Operation Compassion South Africa (OCSA) saam met past. Broodryk en sy vrou, Theresa, is ook nou betrokke by die uitreik na mense in nood, en kan daar ook in die volgende bankrekening bygedra word om te help om die nood van ander te verlig: OCSA, FNB, GOLD Business Account, 62806282456. Gebruik die woord ‘Voedingsprojek’ as verwysing en onthou dat jy as maatskappy kan vra vir ‘n Artikel 18 A kwitansie vir belastingdoeleindes.

Kospakkies word elke Woensdag en Sondag uitgestuur, terwyl die sopkombuis elke Dinsdag en Vrydag sop uitdeel. Tot dusver is daar 93 huisgesinne wat kospakkies ontvang wat geen ander inkomste het, of afhanklik is van net ’n SASSA- of ander toelaag. By Glenifer word gehelp met voedsel vir 83 mense, by Basa Park 63 mense, asook ongeveer 12 mense by ‘n losieshuis. Hierbenewens is die ANWILL-projek saam met die Ngwathe Munisipaliteit en Red Ribbon sopgroep ten nouste betrokke by die haweloses na wie uitgereik is, en vir wie daar tans skuiling en voedsel voorsien word. En die getalle van hulle in nood word by die dag net meer. As jy betrokke wil raak by die Red Ribbon-inisiatief, skakel of WhatsApp Marietjie by 062 217 2404.

Related Articles

Back to top button