NewsNews

“…ons hou die binnekant blink”

My sirkel word al nouer getrek. Ek moet noodgedwonge my periferale visie inperk om ‘die blink kant bo te hou’ ...of moet ons maar net, soos Spoegwolf sê: “...ons hou die binnekant blink” en to hell with the rest ...

Hierdie was my laaste foto geneem in vryheid. Petrus en Liesbet wil, teen my sin en beterwete, in die dorp afklim in die hoop om ook noodproviant aan te skaf.
“Hou jul veilig en eenkant, asseblief. Petrus, moenie drank koop nie. Koop kos! Julle is belangrik vir my. Kom terug wanneer alles verby is. Julle hoef nie te bekommer oor geld nie – ek betaal elke Vrydag in.”, sê ek met die knop in my keel wat die praat hinder.
Albei knik en waai. Hulle sê dankie terwyl ek in my kop bid: “Here, plaas u engele ook om hulle in hierdie tyd. Hulle moet terug kom, asseblief”.
Dis dag twee. My gebede het ‘n nuwe intensiteit. “As dit U wil is, sal ons maar enduit moet struwel. As dit nie is nie, maak die ding dood, Here. Dis chaos.”
Vroeër, op Vryheidsdag, groet ek toe ook vir Prins en Prinses. Die kuier was te vinnig verby en ek wens ek kon hul net hier hou – bloot omdat die volgende kuier nou onbepaald deur Virus uitgestel word.
Virus, jy het my aan die dink – meestal oor myself. Na jou vrekdag gaan ek meer dinge vir myself doen en minder láát doen. Liesbet en Petrus bederf my.
Virus, jy maak dat ek meer van die wêreld wil sien en dan ook my eie ‘consumerism’ effe harder wil aanspreek.
Met elke kug en proes wonder ek nou oor jou, Virus. Jy het ingekruip, my psige kom versteur. Al glo ek, is jy tog hier. Nét hier. Pes!
Wanneer ek rus van Petrus en Liesbet se take wat ek nou self, met ‘n gesteun en gekreun verrig, luister ek. Ek hoor die dakplate kraak soos die son se hitte hul laat uitsit, voël geluide, ‘n swembadpomp en my drie horlosies wat saam onritmies tik. Te midde van hierdie doodse stilte om my heers daar chaos buite.
Virus, deur jou gesels ek sommer hard met myself. Dis nét ek in dié hok. En jy.
My spekboom is gelukkig in sy nuwe tuiste. Jy, Virus, kan niks aan hierdie mooi verander nie. Inteendeel, dis selfs nou nóg mooier in isolasie.
Ek wonder oor verlies en dom astrantheid. Virus, gaan jy die dom astrantes spaar? Gaan jy uiteindelik iémand spaar?
Die ekonomiese diskoers lyk donker. Moody’s se Rommelstatus het saam met Virus sy opwagting kom maak.
My sirkel word al nouer getrek. Ek moet noodgedwonge my periferale visie inperk om ‘die blink kant bo te hou’ …of moet ons maar net, soos Spoegwolf sê: “…ons hou die binnekant blink” en to hell with the rest …

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button