News

Blik van der Merwe se avonture

Blik van der Merwe se avonture

Laatmiddag op 3 April 2016 was Peter van der Merwe en sy stiefseun doenig op hul huis se dak – die huise daar het plat dakke so daar was nie kans vir afval nie. Uit die bloue hemel land daar toe ‘n dwergpapegaai op sy skouer. Wie sy eienaars was kon hul nooit opspoor nie, maar die mak ’gaaitjie het besluit om te bly.

Op daardie stadium het die Van der Merwes net katte gehad en aangesien dit laatmiddag was kon hul nie dadelik ‘n hok in die hande kry nie. Die wasgoedmandjie moes maar diens doen as voëlhok vir die aand. Peter het die papegaai na sy vrou se pa vernoem. Dié se bynaam is Broodblik en die papegaai het Blik geword. Erika sê haar pa was heel ingenome met sy nuwe “naamgenoot”.

Blik het deel van die familie geword en selfs in vrede met die katte geleef. Twee en ‘n half jaar later het die gesin besluit om permanent terug te keer Suid-Afrika toe. “Ons kon nie die katte of vir Blik in Koeweit los nie, maar dit was omtrent ‘n gedoente om hul hier te kry” onthou Erika.

Die reëls en regulasies om die katte in Suid-Afrika te kry was nie naastenby so streng en gekompliseerd soos om Blik hier te kry nie. Een van die vereistes was dat hy ‘n mikroskyfie moes kry. Dit het ‘n hele soektog afgegee om ‘n skyfie klein genoeg te kry wat ‘n veearts onder sy borsbeentjie kon inplant. Hulle moes ook ‘n spesiale hokkie (waarvan die hout behandel is om onder andere vuurvas te wees) vir hom in Suid-Afrika laat maak en die hok op een van hul besoeke terugneem Koeweit toe. Die arme Blik het ook vele toetse ondergaan om seker te maak hy is nie siek nie.

Uiteindelik het die groot dag aangebreek. Peter, die twee katte en Blik was die laastes van die gesin wat moes terugvlieg. Erika sê toe sy by die goedere area op die lughawe kom om die diere te kry het sy vir Blik gehoor. Daar was egter slegte nuus. Al die toetsuitslae was in Arabies geskryf en die staatsveearts wou geen kanse neem nie. Die katte het hy uitgeteken, maar arme Blik is in kwarantyn geplaas. Gelukkig het hy weer al die toetse met vlieënde vaandels geslaag, is daar mooi na hom gekyk en kon hulle hom na ‘n maand huis toe neem.

Blik is nou al langer as 18 maande in die Vaaldriehoek en het goed aangepas. Peter is steeds sy gunsteling persoon. Hy hou van die katte, maar hy en die jong pekingnese, Pabi, is nie groot maats nie. Blik mag elke dag bietjie vlerke strek en in die huis rondvlieg en naweke stort hy sommer saam met Peter. Feta kaas is sy gunsteling lekkerny. Erika sê Blik het geen ideë dat hy eintlik maar ‘n klein papegaai is nie, hy dink hy is so groot soos ‘n arend en is ook maar stout. Die meneertjie het die neiging om van persoon tot persoon te vlieg en op hul koppe te gaan sit, maar om een of ander rede los hy altyd sy blertse op haar kop!

Related Articles

Back to top button