NewsNews

Gesondheidswerkers voorkeur gegee vir griepinenting

Gesondheidswerkers voorkeur gegee vir griepinenting

Gesondheidswerkers in die land sal nou voorkeer kry vir griepinentings. Die Ministerie van Gesondheid het op 28 Maart dié besluit bekendgemaak. Die motivering is juis omdat die land nie kan bekostig dat sy gesondheidswerkers siek moet word nie – veral nou met die griepseisoen wat voorlê. Dit is een van die groot lesse wat geleer is van ander lande wat die Covid-19 pandemie beleef. Daar is gevra vir begrip vir dié besluit van Suid-Afrikaners wat gevolglik nie toegang tot griepinentings vanjaar sal hê nie. Die besluit skep egter ‘n groot (poten-siële) krisis aangesien die teikengroepe vir die griepinenting mense bo 65 jaar is, persone met hoë risiko byvoorbeeld HIV-positief, en onderliggende hart- en longsiekte ensovoorts. wat nou nie die beskerming gaan geniet teen die sirkulerende Influenza-virusse tydens die griepseisoen nie. Dokterspraktyke en apteke wat griepinentings bestel het, sukkel nou om te kry.

So wat kan jy doen om jouself te beskerm dat jy nie griep kry nie?
•Algemene maatreëls: eet gesond, slaap genoeg (nie te veel nie), daaglikse fisieke oefening, goeie higiëne
•Vermy situasies en plekke waar mense saamdrom (“social distancing”)
•Neem aanvulling soos Vitamien C, Sink, L-lisien, Silenium, Omega 3
•Neem asseblief jou voorgskrewe chroniese medikasie soos aanbeveel deur jou behandelende dokter Intussen word dokters se spreekkamers, hospitale en apteke daagliks oorval deur mense wat bekommerd is oor COVID-19 – die siekte wat veroorsaak word deur die virus SARS-COV-2. ‘Almal’ met ‘n lugwegsimptoom is angstig dat hy/sy dit dalk onder lede kan hê. Gesien teen die feit dat dit die nuus, sosiale media en bykans alle gesprekke daagliks oorheers, is dit te verstane, maar hou in gedagte dat ongeveer 80% slegs ligte simptome sal hê en spontaan sal genees. Die hoë-risiko persoon is veral dié een met onderliggende kardiovaskulêre siekte, diabetes mellitus, chroniese longsiekte en immuunonderdrukking.

Tans is daar nog geen entstof teen die virus beskikbaar nie, en ook nie erkende behandeling nie, hoewel daar bespiegel word dat sekere anti-malaria middels en HIV-medikasie effektief kan wees; daar word tans verdere navorsing gedoen daaroor (ook in Suid-Afrika).

Die nuutste opgedateerde kriteria om te toets vir COVID-19 is as volg: Enige persoon met akute lugwegsiekte wat skielik begin met minstens 1 van die volgende simptome:
* hoes
* seer keel
* kortasem
* koors ≥ 38°C (gemeet) of die geskiedenis van koors ongeag hospitalisasiestatus EN in die afgelope 14 dae voor die aanvang van die simptome ten minste een van die volgende: nabye kontak met ‘n bewysde of vermoedelike geval van COVID-19 en/of ‘n geskiedenis van reis buite die landsgrense van Suid-Afrika en/of werk in/of was by ‘n gesondheidsfasiliteit waar pasiënte met COVID-19 behandel word.

Maak asb. seker jy weet wat die basiese verskille is tussen COVID-19, Influenza (griep), verkoue en sinusitis:
•COVID-19: Koors ≥ 38°C, seer keel, droë hoes, hoofpyn, kortasem
•Infuenza: Koors, lyfseer, toe neus/loopneus, moegheid, hoes (droog, maar soms nat), hoofpyn
•Verkoue: Loopneus en/of toe neus, seer keel, nat hoes, laegraadse koors, hoofpyn, nies
•Sinusitis: Toe neus, agterneus-drup, kuggie/hoes (agv slym in keel), gesigpyn/frontale hoofpyn, sinusholtes pyn, nies
Ten tyde van die skryf van hierdie artikel was daar 1 380 gevalle van COVID-19 in Suid-Afrika met 5 sterfgevalle. Geen positiewe gevalle is in Parys of Vredefort aangemeld met die tyd van skrywe nie, hoewel ‘n aantal mense getoets is.

Related Articles

Back to top button