CommunityNews

Gesinsgeweld – ook nou ’n realiteit

Mag ons in hierdie tyd die onskatbare waarde en onvervangbaarheid van ons geliefdes daagliks, nee uurliks, meer en meer besef.

Die Wet op Gesinsgeweld (Wet nr. 116 van 1998), onderskei tussen verkeie vorme van gesinsgeweld – fisiese mishandeling, seksuele mishandeling, emosionele, verbale en sielkundige mishandeling, ekonomiese mishandeling, intimidasie, teistering; agtervolging, beskadiging van eiendom, betreding van die klaer se woning sonder toestemming, waar die partye nie dieselfde woning deel nie, en enige ander oorheersende of mishandelende gedrag teenoor ‘n klaer, waar die optrede die veiligheid, gesondheid of welstand van die klaer skaad, of dreigende leed ten opsigte van die veiligheid, gesondheid of welstand van die klaer kan meebring.
In die lig van die huidige inperkingsperiode fokus hierdie artikel op die tipiese vorme van gesinsgeweld waar die geweldenaar en slagoffer/s ‘n gemeenskaplike woning deel, dikwels met minderjarige kinders.

Die term “gesinsgeweld” is baie omvattend vir ‘n wye verskeidenheid vorme van onregmatige optrede deur geweldenaars teenoor diegene wie, as ‘n norm, onder hul woede en gevolglike verbale en/of fisiese uitbarstings en soms aanranding, (en ander vorme van geweld), deurloop.

Die term “gesinsgeweld” is een waarmee sekerlik die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners bekend is. Of jy self deurgeloop het, tans onder die ewig dreigende, of sekere, swaard leef, of iemand ken wie daagliks op eiers loop in ‘n meestal vrugtelose poging om konfrontasie te probeer vermy, bly dit ‘n unieke, hartseer-algemene, en ongelukkig voortdurende epidemie wat potensieel ‘n heel nuwe vorm kan aanneem in ‘n situasie waar die “geweldenaar” en die “slagoffer/s” tans deur die gereg geforseer word om die beperkte spasie van ‘n gemeenskaplike woning 24/7 te deel.

Die heersende, ekonomiese onsekerhede en meegaande spanning en vrees vir die onbekende, onder andere die moonltlikheid van werkloosheid na inperking, dra sekerlik negatief by tot reeds normaalweg geweldadige, onbeheerbare gemoedere.
Die regering se besluit dat geen alhohol verkoop mag word tydens inperking, word deur baie verwelkom. Alkoholmisbruik verhoog ongetwyfeld die kanse op, en pleging van, gesinsgeweld. Kommerwekkend was mediaberigte van lede van die publiek wie bereid was om, ter elfder-uur, in ellelange rye te staan om behoorlike alkohol rantsoene aan te skaf.

Daarteenoor kan ‘n tekort aan alkohol vir ‘n geweldenaar wie gewoond is aan sy/haar gereelde sopie, lei tot meer frustrasie en daarmee saam irrasionele en meer geweldadige optrede. Skaakmat?

Wanneer minderjarige kinders dieselfde beperkte spasie met hul ouers of stiefouer, of ouer se lewensmaat deel, raak die prentjie meer duister. Noodwendig is ‘n situasie waar minderjarige kinders direk, persoonlik die slagoffers van gesinsgeweld is, van onbeskryflike erns.
Dog, selfs in ‘n woning waar ‘n minderjarige kind/ers nie self, direk verbaal en/of fisies, (of andersins), mishandel word nie, maar wel gesinsgeweld, in watter vorm ook al, aanskou, bly die kinders slagoffers van hierdie euwel en word hulle in die proses sielkundig en emosioneel, onherroeplik geskend deur die aanskoue en blootstelling aan gesinsgeweld.

In dieselfde asem kan gesinsgeweld van volwassenes teenoor hul bejaarde ouers nie onder die mat ingevee word nie.
Die heel waarskynlike gebrek aan ‘n “alternatiewe heenkome” is eenvoudig ‘n onmiskenbare struikelblok vir ‘n bejaarde slagoffer, wie homself/haarself in hierdie tipe diaboliese situasie bevind. Dikwels is die enigste rede waarom die geweldenaar die bejaarde ouer huisves, die voortuitsig van die bejaarde ouer se maandelikse staatspensioen waarop die geweldenaar eenvoudig staatmaak en aanspraak maak.
Die Wet op Gesinsgeweld maak natuurlik voorsiening vir “ekonomiese mishandeling”.

Een van die grootste struikelblokke vir enige persoon wie gereeld deurloop onder die hande van ‘n “geliefde”, wie intussen sy (of haar) “geliefde-baadjie” verruil het vir ‘n “geweldenaar-baadjie”, is die feit dat die slagoffer geen vorm van, of ‘n beperkte vorm van inkomste het, en geen ander heenkome het of sou kon bekostig, sou sy (of hy) besluit om die gemeenskaplike woning te verlaat nie.
Daarby is dit is ‘n algemene tendens dat die geweldenaar die slagoffer dreig dat, as sy (of hy) die gemeenskaplike woning verlaat, sy (of hy) nie die minderjarige kind/ers mag saamneem nie en is dit meer dikwels die oorwegende rede waarom ‘n slagoffer in so ‘n posisie besluit om in die verhouding te bly.

In die lig van die huidige inperking is die realiteit van gesinsgeweld dus ‘n selfs groter Goliat om te verslaan vir diegene wie vasgevang is in ‘n diabolies-taai gesinsgeweld spinnerak, en mag die “ontsnap-opsie” vir hulle totaal buite bereik voorkom.
Waar die geweldenaar die broodwinner is, is die slagoffer finansieel afhanklik van die geweldenaar, ook waar dit kom by klein mondjies wat gevoed moet word, en is die kans vir vlug en ‘n positiewe toekoms daarna, gewoonlik bitter skraal tot nul.

Die huidige nasionale inperking blyk dus ‘n situasie te skep vir slagoffers van gesinsgeweld, wie ‘n gemeenskaplike woning met ‘n geweldenaar moet deel, met geen vooruitsig, en minder nog, geen waarborg op ‘n suksesvolle “tapping-out” geleentheid nie.
Die blote feit dat daar ‘n spesiale afdeling vir onderhoudsgeskille en gesinsgeweld in bykans elke sviele hof, of ten minste binne bereik van elke woonarea geskep is, is ‘n skreeuende bewys dat die gesinsgeweldverskynsel inderdaad ‘n sosiale epidemie is.

Een besoek aan slegs een van die groter howe sal enige oningeligte persoon na sy/haar asem laat snak wanneer hulle die ellelange rye mense, (geweldenaars en slagoffers), sien sit, in afwagting dat hulle saaknommers uitgeroep word vir ‘n aansoek vir ‘n beskermings- of onderhoudsbevel, of vir hulp in geval van verontagsaming van ‘n bestaande beskermings- of onderhoudsbevel.

Die Wet op Gesinsgeweld maak voorsiening vir “ekonomiese mishandeling”, maar is dit ‘n onderwerp vir bespreking heel op sy eie, veral in gevalle waar die geweldenaar en slagoffer nie ‘n gemeenskaplike woning deel nie, waar die geweldenaar die finansiële sterker party is, maar nie die primêre versorger nie, en waar die primêre versorger die een is wie daagliks in honger kindergesiggies moet vaskyk en antwoorde gee op vrae wat kinders nie veronderstel is om te vra nie – hierdie natuurlik ook ‘n onderwerp vir bespreking heel op sy eie, maar wat in die huidige inperking situasie ongetwyfeld tot die hartseer nadeel van talle kinders sal lei.

Terwyl dit onder “normale” omstandighede alreeds moeilik of onmoontlik is vir ‘n slagoffer om die geweldenaar se woedebuie, en verwante optrede vry te spring, skep die huidige inperking ‘n hele verskeidenheid nuwe, unieke scenarios, struikelblokke, uitdagings, en daarom nodigheid vir rapportering van gesinsgeweld, gevolg deur hulpverlening deur middel van effektiewe wetstoepassing.
Die woord “isolasie” behoort ‘n vloekwoord te wees vir enige persoon wie eerstehands ondervinding het van gesinsgeweld, hetsy persoonlik as slagoffer, of as ‘n vriend of vriendin, of familielid van ‘n slagoffer, asook vir diegene wie in hul professionele hoedanighede gereeld met gevalle van gesinsgeweld te doen kry.

Die argaise gesegde dat “kinders gesien en nie gehoor mag word nie,” kry heel nuwe betekenis in die gesinsgeweld arena. “Stilswye” is die geweldenaar se denkbeeldige ystervuis en sy/haar wagwoord.

Dit is geen geheim dat slagoffers van fisiese gesinsgeweld se beserings juis daar aangetref word waar die algemene publiek, vriende, familie, en werkskollegas dit nie normaalweg sal kan sien nie – daar waar klere die beserings kan verdoesel.
Fisiese geweld veroorsaak meestal ook verleentheid by die slagoffer, wat op sy beurt lei tot ‘n verswakte en progressief verswakkende selfbeeld, met sommige slagoffers wie selfs, teenstrydig met alle logika, glo dat hulle die mishandeling verdien – die perfekte teelaarde vir gereelde en voortdurende emosionele -, verbale -, en sielkundige mishandeling, teistering en intimidasie – die tipe “beserings” wat nie in ‘n mediese ondersoek besigtig en in ‘n SAPS J88-mediese verslag, op skrif, bevestig kan word nie.

Daar blyk soms selfs ‘n stigma te kleef aan slagoffers van gesinsgeweld – asof hulle onvermoë of oënskynlike onwilligheid om die geweld teen te staan of te rapporteer, negatief op die slagoffer as persoon se waardigheid en sosiale aanvaarbaarheid reflekteer – die samelewing se gesonde ingesteldheid teenoor, erkenning van, en simpatie met werklike slagoffers, is dus van kardinale belang.
Gesinsgeweld is geensins beperk tot enige spesifieke geslag, ras, ouderdom, vlak van geletterdheid, finansiele vermoë en andersins publieke – of professionele status nie.

Daar is egter ‘n ander, skokkend toenemende tendens wat bydra tot die gesinsgeweld euwel en wat ewe diabolies die doeltreffende voorkoming en rapportering van, en wetstoepassing daarteen belemmer, en dit is die vals rapportering van gesinsgeweld, waar daar inderwaarheid geen gesinsgeweld is nie – soms ‘n strategie voor of gedurende ‘n egskeidingsgeding, waar die een party, in weerwraak teenoor die ander party, vals aantygings van gesinsgeweld maak, met die uitsluitlike doel om hom/haar te diskrediteer, spesifiek in gevalle waar minderjarige kinders betrokke is en toekomstige kontak met die kinders as wapen teen die ander gebruik word.
Die vals rapporteerders vererger dus eksponensieel die lot van die werklike slagoffers wanneer die ware slagoffers uiteindelik die moed bymekaar skraap om die geweld te rapporteer, net om met suspisie en ongeloof ontvang en behandel te word deur die owerhede wie, in terme van die wet, verantwoordelik is vir die beskerming van ware slagoffers, gevolg deur behoorlike optrede teen die ware geweldenaars.
Fisiese -, verbale -, emosionele -, en sielkundige mishandeling is dus die waarskynlikste vorme van gesinsgeweld wat ongesiens kan voortduur tydens die inperking situasie waarin ons ons tans bevind, spesifiek waar die geweldenaar en die slagoffer/s ‘n gemeenskaplike woning deel.

Die ernstige lig waarin die Wetgewer gesinsgeweld beskou, word ondersteun deur die regulasies tans van toepassing op noodsaaklike dienste. Dit is dat die Gesinsgeweld afdelings in howe beskikbaar en toeganklik bly vir slagoffers. ‘n Persoon teen wie daar tans ‘n beskermingsbevel is, (interim of finaal), veral die wie ‘n gemeenskaplike woning deel met die gesinsgeweldslagoffer, word daarom aangeraai om liefs sy/haar hande tuis te hou en sy/haar woorde te tel gedurende die inperking – arrestasie en aanhouding, ten minste tot en met hofverskyning, onder “normale” omstandighede is meer as ongewens – arrestasie en aanhouding, tot en met hofverskyning tydens inperking is ‘n perd van ‘n onbekende ander kleur.

Vals rapportering wat lei na onregmatige arrestasie en aanhouding, hou noodwendig ook ongekende moontlikhede van vervolging in, (beide krimineel en siviel), en word daarom ten sterkte afgeraai.
Mag ons in hierdie tyd die onskatbare waarde en onvervangbaarheid van ons geliefdes daagliks, nee uurliks, meer en meer besef.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button