NewsNews

Geen kansvattery, geen rondlopery

Swaar strawwe wag vir oortreders

Die polisie het vandag, Saterdag 28 Maart, weer ‘n baie sterk sigbare polisie teenwoordigheid in Parys, Tumahole en Schonkenville gehandhaaf en die boodskap is baie duidelik – daar is erns om seker te maak mense gehoorsaam die inperkingsregulasies.

Padblokkades was weer opgestel en ‘n arrestasie is vanoggend reeds hier gemaak waar mense nie gehoor gegee het aan die regulasies nie.

Die polisie het vanoggend ook ‘n waaksame oog gehou  by minstens 4 begrafnisse in Heilbron en 8 begrafnisse in Parys.  Baie streng regulasies geld tans vir begrafnisse. Dit bepaal onder meer dat nie meer as 50 mense by ‘n begrafnis toegelaat sal word nie, geen nagwake gehou mag word nie. daar afstand gehou sal word tussen mense, gereeld hande gewas moet word en waar daar spyseniering is, geen eetgerei gedeel mag word nie, maar voedsel eerder in wegneemete houers verpak moet word. Begrafnisse mag ook nie langer as 2 ure duur nie.

Teen net na 11:00 vanoggend was die meeste begrafnisse in die groter Parys afgehandel  en is seker gemaak dat regulasies nagekom word.

Kinders wat nog in die strate gespeel het, is gevra om huistoe te gaan.

Daar was ook by sekere kruidenierswinkels steeds tou gestaan en is gevra dat mense afstand sal hou tussen mekaar.

In van die woonbuurte het die polisie se Openbare Orde eenhede met Nyalas die strate gepatrolleer en is duidelik gesê dat geen kansvatters geduld sal word nie. Die polisie het die reg om jou te stop en te vra waarheen jy op pad is, om aan te dring op die koopbewyse van wat jy sê jy gaan koop het, en selfs agter jou aan te ry as daar enige twyfel is oor jou bewegings.

Jy moet onthou om te alle tye jou ID-dokument by jou te hou en as jy ‘n essensiële diens verrig, die nodige permitte by jou te hê.

Jy mag nie oor provinsiegrense beweeg gedurende die inperkingstydperk nie.

Intussen het die Vrystaatse Departement van Gesondheid ook sy Covid-19 Online Screening nommer bekendgemaak. Die nommer is 0800 53 5554. Professionele gesondheidsbeamptes beman die lyn 24 uur.

 

Related Articles

Back to top button