NewsNews

So het vorige virusse Valies verniel

  VEREENIGING. – Verskeie ernstige virussiektes, soos die huidige Corona- of Covid-19 virus, het die wêreld al deur die jare getref en net soos die meeste ander streke en lande, het die Vaaldriehoek ook nie ongedeerd daarvan afgekom nie. Die siekte wat tot dusver die grootste impak op die Vaaldriehoek gehad het, was die 1918 …

 

VEREENIGING. – Verskeie ernstige virussiektes, soos die huidige Corona- of Covid-19 virus, het die wêreld al deur die jare getref en net soos die meeste ander streke en lande, het die Vaaldriehoek ook nie ongedeerd daarvan afgekom nie.
Die siekte wat tot dusver die grootste impak op die Vaaldriehoek gehad het, was die 1918 griep, ook bekend as die Spaanse griep. Volgens die webwerf www.cdc.gov/flu/pandemic is 500 miljoen mense wêreldwyd, destyds ‘n derde van die wêreldbevolking, in 1918 en 1919 met die virus besmet. Na raming het 50 miljoen mense gesterf. Die hoogste sterftesyfer was onder kinders jonger as 5 jaar, mense tussen 20 en 40 jaar, en mense ouer as 65.
Volgens oorlewering is lidmate van Vereeniging se oudste Afrikaanse kerk, die NG Gemeente Vereeniging (later die Klipkerk), ook erg deur die Groot Griep (’n H1N1-tipe virus) getref en dit was glo nie ongewoon dat tot vyf begrafnisse per dag gedurende die winter van 1918 in die gemeente plaasgevind het nie. Die ergste sterftesyfer was glo toe 22 lidmate op ‘n enkele dag in Vereeniging dood is.

Die Groot Griep het volgens oorlewering ook die bouwerk aan die Barrage gekniehalter. Nadat bouwerk in 1916 begin het, het dit in 1918 tydelik tot stilstand gekom toe 98% van die 402 swart en wit werkers die siekte opgedoen het. Meer as 40 van die werkers het uiteindelik daaraan gesterf.
Sowat 50 jaar later het die Vaaldriehoek weer onder ‘n dodelike virus deurgeloop. Vaalweekblad van 19 Junie 1970 berig dat die gevreesde Hongkong-griep die Vaaldriehoek behoorlik in sy greep gehad het. Binne enkele weke was ‘n paar duisend mense in Meyerton, Vereeniging, Vanderbijlpark en Sasolburg platgetrek. In baie gevalle was dié mense ernstig siek en daar is veral gevrees vir babas en bejaardes se lewens.
Omdat die siekte hoogs aansteeklik was, is skole veral geraak. Aanvanklik het veral kinders en onderwysers van Vereeniging deurgeloop. Gevalle is aangeteken waar huisgesinne, van die pa en ma tot die kinders, almal bedlêend siek was.
Verslae van sommige Vereenigingse skole in die middelste week van Junie 1970 lui:
* 31% (230 uit 750) van Laerskool Risiville se skoliere is siek, en so ook ses onderwysers, asook die skoolhoof, mnr. C. de Wet.
* By Hoërskool Vereeniging is 230 van die 1 200 leerlinge op een dag siek verklaar.
* Laerskool Unitaspark: 20% van die leerlinge en drie onderwysers het die siekte onder lede.
* By Laerskool Handhawer was 22% leerlinge en drie onderwysers afwesig weens die griep.
* By Milton Primary School was 146 (23%) van die 612 leerlinge siek en 20 onderwysers was ook op die krukkelys.
* Laerskool Drie Riviere se afwesigheidsyfer was 146 uit 735 skoliere.
Nadat die bywoningsyfer by Vereenigingse skole begin verbeter het, het skole in Vanderbijlpark begin deurloop. Die Hoërskool Transvalia het in Julie daardie jaar gerapporteer dat 344 van die skool se 1 270 skoliere en agt onderwysers in die bed was met griep, terwyl Hoërskool Vanderbijlpark ‘n afwesigheid van 165 uit ‘n totaal van 1 100 skoliere en agt onderwysers aangeteken het.

Hongkong-griep het in 1972 ‘n terugkeer gemaak, maar met minder ernstige gevolge. Dit is nie bekend of enige inwoners van die Vaaldriehoek aan die siekte gesterf het nie, maar wêreldwyd het Hongkong-griep in totaal sowat ‘n miljoen lewens geëis.
Sowat 40 jaar later, in 2009, is die Vaaldriehoek wéér soos die res van die wêreld deur ‘n virussiekte getref: Dié keer was dit varkgriep.
‘n Vaalweekblad-uitgawe uit Augustus 2009 berig dat die eerste plaaslike geval ‘n 25-jarige man van Sasolburg was.
Kort daarna het duisende inwoners van die Vaaldriehoek dieselfde simptome gehad: Naarheid, braking, hoë koors, ‘n seer keel, hoofpyn en uiterste moegheid. In sommige gevalle het dit ook longontsteking tot gevolg gehad.
Die presiese aantal gevalle in die Vaaldriehoek is onbekend, maar wêreldwyd het die siekte na raming in die eerste jaar nadat dit uitgebreek het, meer as 500 000 lewens geëis. Anders as wat die geval gewoonlik met soortgelyke virussiektes is, was 80% van die mense wat weens varkgriep gesterf het, jonger as 65 jaar.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button