CommunityNewsPhoto Galleries

Stap 2 en 3 in familienavorsing – watter inligting is belangrik

Stap 2 en 3 in familienavorsing – watter inligting is belangrik

In ‘n vorige webartikel oor familienavorsing het ‘n kenner in genealogie, Elmarie Weyers, die basiese begrippe van familienavorsing uiteengesit in stap een (Lees meer oor stap een by https://potchefstroomherald.co.za/70313/hoe-om-familienavorsing-te-doen-die-eerste-stap/) uiteengesit. Elmarie is die sekretaresse van die Genealogiese Vereniging van SA (GGSA) se Noordwestak en kurator by die Potchefstroomse Museum.

In stap twee verduidelik sy waar jy kan aanklop om uit te vind of daar reeds navorsing oor jou van gedoen is en in stap drie verduidelik sy die basiese inligting wat ingesamel moet word. Daarna verduidelik sy waar die gebruik van familiename en vanne vandaankom.

Stap twee: Stel vas of navorsing reeds gedoen is

Stap twee is om seker te maak of daar nie alreeds navorsing oor jou voorgeslagte gedoen is nie. Dit is tydmors om die wiel van vooraf te ontdek. As jou van onder andere Cilliers, Joubert, Van der Merwe, Du Toit, De Beer, Pienaar, Van der Walt of Schoeman is, is jou kop deur. Die kanse is groot dat jou voorgeslagte in die registers sal wees. Al wat jy nou hoef te doen, is om die koppeling te maak en jou en jou nageslag se gegewens by te voeg.

Die bogenoemde familieregisters is maar enkele van die meer as 200 vanne waaroor daar spesifieke geslagsregisters in die Potchefstroomse Museum bestaan.

Die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria is ook van die plekke waar talle geslagregisters gevind kan word.

Besoek gerus die webblad van die Genealogiese Genootskap van SA by www.genza.org.za of soek op die internet rond om te kyk of iemand nie jou van navors nie.

Doen gerus ook navraag op die gratis genealogiese geselsprogram: www.Sagenealogie@groups.io. Daar is talle kundiges wat jou van hulp sal wees.

Stap drie: Besluit oor die tipe inligting wat jy wil versamel

Stap drie is om te besluit watter tipe inligting jy oor jou voorgeslagte gaan versamel. Genealogie bestaan nie net uit name en datums van persone nie. Inligting oor mense se lief en leed, belangstellings, bereikinge en mislukkings is ewe-eens belangrik.

Volgens Isabel Groesbeek kan die belangrikheid van name van plekke waar ‘n persoon gebore, gedoop, getrou of gesterf het nie genoeg beklemtoon word nie. Dit gee aan die navorser ‘n aanduiding waar hy /sy vir inligting moet gaan soek.

Die volgende basiese biografiese inligting van elke persoon is van belang:

  • Volle name en van, nooiensvan, asook noemnaam
  • Geboortedatum en –plek
  • Doopdatum en –plek (indien beskikbaar)
  • Huweliksdatum en –plek
  • Sterfdatum en –plek, asook begraafplaas of gedenkmuur
  • Skoolopleiding (naam van skole en plek)
  • Naskoolse opleiding
  • Beroepe
  • Stokperdjies
  • Bereikinge
  • Gebeurtenisse wat ‘n rol in hulle lewens gespeel het.

Waar familiename en vanne vandaan kom

Die gebruik van familiename en vanne was voor 1600 nie ‘n algemene gebruik nie. Eers na 1800 was vanne in Wes-Europa en Engeland staatsregtelik verpligtend.

Die Franse keiser, Napoleon Bonaparte, het reeds in 1811 mense onder Franse bewind (dit is Frankryk, die Nederlande, Italië en die Duitse state) deur wetgewing gedwing om vanne in plaas van vadersname te gebruik. Van toe af moes alle geboortes, huwelike en sterfgevalle opgegee en aangeteken word.

Die oogmerk hiermee was hoofsaaklik om diensplig vir die weermag te reël. Die Republiek Nederland het na die val van Napoleon ‘n selfstandige republiek onder die Huis van Oranje geword. Op 8 November 1825 is ‘n koninklike besluit uitgevaardig om almal weer aan die bevel van 1811 te herinner om ‘n vaste familienaam te kry. Min mense het daaraan gehoor gegee. Vanne uit die tydperk het hoofsaaklik op die plek van herkoms, (Van Eeden), plantname (Van Eyk), beroepe (Schoeman kom van die woord skoenmaker af), liggaamseienskappe (De Lange) ensovoorts gedui.

* Vir meer besonderhede oor die Noordwestak van die GGSA of vir ‘n afspraak om inligting uit die familieregisters, van die meer as 200 vanne, in die museumbiblioteek te kry,  kontak Elmarie Weyers by 018 299 5021 / elmariew@jbmarks.gov.za.

Related Articles

Back to top button