NewsNews

Skrywersdag beklemtoon die belangrikheid van Afrikaans

Skrywersdag beklemtoon die belangrikheid van Afrikaans

’n Skrywersdag is op Vrydag, 21 Februarie deur die vakgroep Afrikaans vir Onderwys van die Fakulteit Opvoedkunde op die Potchefstroomkampus aangebied. Die doel van die dag was om Afrikaanse onderwysers, -studente, -vakadviseurs en ander belangstellendes aan skrywers aan die wêreld van die Afrikaanse kinder- en jeugboeke bekend te stel.


ʼn Ander belangrike doel was ook om ’n belangegroep in Afrikaans te skep en om internasionale moedertaaldag te vier. Die dag is in samewerking met Henk Viljoen van NB Uitgewers gereël. Viljoen doen belangrike werk om skrywers en hulle publikasies aan die leserpubliek bekend te stel.

Die skrywers, Cecilia Steyn, Annerle Barnard en Nelia Engelbrecht het oor interessante aspekte van jeugliteratuur gepraat.
Stefaans Coetzee het die dag ingelei met die bekendstelling van sy outobiografie, Wit Wolf: Die Worcester-Bomplanter Se Storie Van Bevryding. Prof. Gerhard van Huyssteen het op interessante wyse voortgebou met sy praatjie: “Wat de vloekwoord?!” Cecilia Steyn het uit haar skrywersagtergrond en -ervaring antwoorde gebied op die vraag: Wat trek die jeug se aandag?

Annerle Barnard het die gehoor geboei met haar praatjie oor misdaadfiksie vir die jeug. Nelia Engelbrecht het meer oor haar Die Poort-reeks vertel, ʼn fassinerende fantasiereeks met elemente van wetenskapfiksie daarin. Nicol Faassen het oor die nuwe Pharos Afrikaansgids gesels. Dit is bekend gestel as ʼn praktiese, alledaagse kennis- en gebruiksgids vir leerders en studente.

Related Articles

Back to top button