NewsNews

Een oomblik so naby en toe… skoonveld

Likkewane is beslis geen ongewone gesig vir Parysenaars nie.

Likkewane is beslis geen ongewone gesig vir Parysenaars nie. Vroeër jare is hulle dikwels in leivore of in erwe na aan die rivier opgemerk.
So is daar ook verlede week ‘n dooie likkewaan op die sypaadjie by die kruising van Allenby- en Chinnstraat opgemerk.
Magrieta Truter vertel dat sy Donderdagoggend haar kleinseun by die skool gaan aflaai het, en met die terugkom het ‘n verbyganger haar die likkewaan op die sypaadjie gewys. Vir haar was dit die eerste keer dat sy dié dier van naderby kon bekyk.
Gelukkig kon sy haar kleinseun die middag nog wys hoe ‘n likkewaan nou eintlik lyk, want Vrydagoggend was dié likkewaan toe skoonveld.
Volgens Wynand Nel van We Care, kry hulle gereeld likkewane en is daar ook weer die afgelope week twee pofadders in die dorp gevang, onder meer langs Breëstraat en in Schonkenville, asook ’n bruin huisslang.

’n Paar interessanthede oor  likkewane
* Likkewane se lengte kan wissel tussen 20 en 300cm (die Komododraak).
* Daar is 30 spesies in die likkewaanfamilie
* Likkewane se sterk, gevaarlike kloue laat hulle rats en vinnig beweeg en kan hulle in bome of oor rotse klouter.
* Hul stert is sydelings afgeplat en is nie net ‘n swemorgaan nie, maar ook hul wapen.
* Hoewel die rugskubbe rond is en nie oormekaar gerangskik nie, is die skubbe op die pens meer vierkantig en in dwars rye gerangskik.
* Dit is nie net die likkewaan se lang gevurkte tong wat met slange ooreenstem nie. Ook die bou van die ruggraat en skedel toon ooreenkomste.
* Die tong dien ook as reukorgaan.
* Likkewane is dagdiere en vleisvreters, hoewel hulle ook eiers eet.
* Die grootte van die prooi word bepaal deur die grootte en ouderdom van die likkewaan. So sal jong likkewane van kleiner spesies insekte vreet.
* As hulle bedreig voel, soek hulle skuiling, en as hulle nie kan wegkruip nie suig hulle hul lywe vol lug en neem ‘n dreigende houding in, meestal op die agterpote, en maak ‘n blaasgeluid. Die vyand word dan met die stert, bek en kloue afgeweer.

Related Articles

Back to top button