News

Drie Belastingvoordele waarvan jy moet weet

Goeie nuus is deesdae so skaars soos hoendertande, maar tog is daar min dinge so lekker soos ‘n  groot tjek van Jan Taks wanneer dit hulle beurt is om jou elke jaar (terug) te betaal. Met minder as 10 dae oor voor die 2019/2020 belastingjaar tot ‘n einde kom sal jy vinnig moet spring om die drie  voordele hieronder, optimaal te kan benut.    

 

 

  1. Skenkings

Het jy geweet dat  ‘n skenking aan ‘n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie (OWO) soos Solidariteit Helpende Hand jou belasbare inkomste met ‘n maksimum van tot 10%  kan verminder, terwyl jy terselfdetyd daarmee ‘n weldaad kan verrig.  Indien jy b.v R700 000 per jaar verdien sal ‘n maksimum aftrekbare skenking van R70 000 toegelaat word ingevolge Art18A van die Inkomstebelastingwet.

 

Wenk: Maak seker dat die welsynsorganisasie vir wie jy skenk as ‘n OWO geregistreer is en dring aan op die Art 18A- belastingsertifikaat nadat jy jou skenking gemaak het.

 

Jy word verder toegelaat om elke jaar ‘n maksimum van R100 000.00 belastingvry te skenk. Hierdie bepaling kom baie handig te pas wanneer jy b.v ‘n leningsrekening op jou trust het. Kom ek verduidelik: Gestel die leningsrekening op jou trust beloop R1.2 miljoen teen ‘n rentekoers van 9% per jaar, dan sal die die rentekomponent R108 000 beloop. Met hierdie bepaling kan jy R100 000 van hierdie rente terug aan die trust skenk, om sodoende die belasting op die rente te verminder.

 

Wenk: Maak seker dat jou totale skenkings (OWO en ander) vir die jaar nie  die R100 000 perk oorskry nie.

 

  1. Aftreefondsbydraes

Dit sluit bydraes aan pensioefondse, voorsorgfondse en uitree annuïteite in.  Die maksimum aftrekbare bedrag wat jy kan bydra is 27,5% van jou belasbare inkomste beperk tot R350 000 per jaar. Indien jy b.v die maksimum van R350 000 bydra en jy in die hoogtste belastingkerf (45%) val sal die belastingvoordeel wat jy kan terugeis ‘n allemintige R157 500 wees!

 

 

  1. Belastingvrye beleggingsbydraes

Elke persoon kan ‘n maksimum van R33 000 per jaar tot ‘n belastingvrye beleggingstruktuur bydra tot ‘n maksimum van R500 000. Die groot waarde hiervan  is dat alle groei, inkomste en dividende uit hoofde van die belegging vrygestel is van belasting, en dat die kapitaal ook, sonder enige belasting op kapitaalwins, ontrrek kan word.

 

Ten slotte

Bogemelde 3 wenke handel oor belastingvoordele en is nie ‘n omvattende beleggingstrategie. Die goue reel is altyd om ‘n kundige en gekwalifiseerde persoon te gebruik wanneer jy beleggings- of finansiële raad inwin.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button