NewsNews

Koepel-kameras toe weer diewe se Moses

Koepel-kameras toe weer diewe se Moses

Die kamerastelsel in die Vredefort Koepel, en ‘n op-en-wakker plaasbestuurder het die afgelope naweek weer gesorg dat die langarm van die gereg net té lank was vir ses vermeende dieseldiewe.
Dit nadat die plaasbestuurder snuf in die neus gekry het oor diesel wat knaend weggeraak het op die plaas Daskop in die Vredefort-distrik. Nog kameras is opgesit en is die verdagte dieseldiewe toe inderdaad deur die man wat die videomateriaal op die kamera nagegaan het, en die plaasbestuurder opgemerk.
Die Vredefort-polisie en Vredefort Koepel Gemeenskap Polisiëring Forum is in kennis gestel en gevra om op die uitkyk te wees. Toe die dieseldiewe hul buit kom oplaai het, het GPF-lede hulle gevolg en het die jaagtog Vrydag in Parys geëindig waar die ses mans met die hulp van Parys Sekuriteit en die Parys-polisie vasgetrek is.
Die bestuurder van die bakkie, sy helper en nog vier plaaswerkers is in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op ‘n gesteelde 210 liter drom diesel, ‘n voertuigbattery en plastieksak met dagga, asook die Ford Bantam wat gebruik is. Dankie aan Daskop se plaasbestuurder en die veldkameraman, lede van die polisie, Parys Verkeersafdeling, Parys Sekuriteit, Vredefort Koepel GPF-span en almal wat die kamerastelsel in die Vredefort Koepel aan Vrystaat-kant moontlik gemaak het.
* Gazette het ook in Januarie vanjaar berig toe ‘n moontlike plaasaanval op die plaas Goedgedacht van Pieter en Erna Rademan langs die S717 in die Vredefort Koepel afgeweer kon word, ook danksy die kamerastelsel en skitterende samewerking tussen die polisie, boere van die distrik, lede van die Vredefort Koepel GPF en beriggewers.
Die ses verdagtes wat toe inhegtenis geneem is, het intussen borg gekry en moet weer op 6 Maart op klagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en poging tot besigheidsroof voor die hof verskyn.

Related Articles

Back to top button