News

Só is hangbrug-loopvlak versterk

Só is hangbrug-loopvlak versterk

Die projek van ’n handjievol vrywilligers wat onlangs vroeg een Saterdagoggend die hangbrug oor die Vaalrivier in Parys weer ‘n nuwe verfbaadjie gegee het, het die gedagtes van die 87-jarige Jan Pretorius van Parys ver paaie laat loop.

Waar hy op sy stoep in Paulsenstraat sit, vertel hy hoe hy en drie werkers in die jare 1969/70 verantwoordelik was vir die groot taak om die houtplanke op die brug se loopvlak met staalplate te vervang.

Jan vertel dat daar nie van harnasse gebruik gemaak is nie, en dat hulle wat aan die projek gewerk het, vooraf streng gekeur is en geen bang haar vir hoogtes moes hê nie.
Hy het toe vir Kragkop, die ingenieurs-afdeling van die destydse Vaalrivier Tabak Koöperasie, gewerk. Die Parys Munisipaliteit met mnr. Schonken wat toe stadsklerk was, het vir die materiaal en arbeid betaal om die brug se loopvlak te verstewig.

Piekniek op Gholf-eiland was daardie jare besonder gewild onder Parysenaars, maar ook besoekers aan die dorp, en is die hangbrug waarskynlik juis om die rede gebou met die aanvanklike kabels en houtplanke, om toegang vanaf die dorp na die eiland te bied.

Die houtloopvlak was egter nie baie stabiel nie en het die ‘geswaai’ van die brug wanneer mense daarop sou loop, jou senuwees beproef, onthou Jan se vrou, Joey.
Vir hulle as gesin het die rivier en die brug ‘n besondere betekenis gehad en is daar menige vakansies hier op die klippe by die rivier ontspan en saam gekuier, terwyl die kinders in die water baljaar het.

Die foto’s op die inligtingsbord wat sewe jaar gelede hier deur vrywilligers met ‘n vorige hangbrug regruk-projek opgesit is, hou kosbare herinneringe in van hoe dit destyds by die hangbrug gelyk het.

Joey onthou ook die angswekkende oomblikke wat sy beleef het wanneer sy kom kyk het hoe Jan en sy span vorder, en sy hom onderstebo aan die brug sien hang het, besig om die plate vas te sweis.

Ongelukkig is daar vandag min bekend oor die kontrakteur en die geskiedenis van hoe die brug gebou is.
Maar een ding is seker, oor jare het Parys se hangbrug nog nie sy bekoring vir Parysenaars of besoekers aan die dorp verloor nie, en is dit steeds een van die mees gefotografeerde toeriste-aantreklikhede vir die dorp. Of dit op brosjures, in tydskrif-aftikels of TV-programme oor Parys is – jy kan seker wees die hangbrug sal daar wees.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button