NewsNews

In kattebak ingeboender en met veters vasgemaak toe kapers met voertuig vlug

Wat jy moet weet oor voertuigkaping:

‘n 51-Jarige man van Vanderbijlpark is Vrydagmiddag deur voertuigkapers langs die Vaal Eden-pad afgelaai en met sy skoenveters aan ‘n paal vasgemaak, nadat hy vroeër die middag by die Total motorhawe naby Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark gekaap is. Die kapers het met sy wit Jeep met ‘n Vrystaatse registrasienommer, sy selfoon en beursie gevlug.
Volgens Robert Schimpers wat op ‘n wildsplaas tussen Parys en Vanderbijlpark bly, het hy die man net na 17:00 Vrydagmiddag langs die Vaal Eden-pad opgemerk waar hy uit die bosse na die teerpad gestap het.
Robert het besef dat daar groot fout is, en die man opgelaai en na die Barrage-polisiestasie geneem. Die man het aan hom vertel dat hy vroeër die middag gekaap is. Twee voertuie was vermoedelik by die kaping betrokke.
Hy is deur die kapers in sy motor se kattebak inforseer en vasgebind, en het die kapers sy hemp oor sy kop getrek sodat hy nie kon sien waarheen hulle ry nie. Hy is ook met ‘n handwapen oor die kop geslaan wat hom vermoedelik sy bewussyn laat verloor het.
Volgens nog ‘n vriend van die man, het hy hom later by die polisiestasie opgelaai en is die man steeds getraumatiseerd na die voorval. Die voertuig is ook nog soek.


Wat jy moet weet oor voertuigkaping:
Voertuigkapings is ‘n deurlopende probleem in Suid-Afrika, en is die grootste uitdaging om konstant bewus te wees van faktore wat jou ‘n maklike teiken vir voertuigkapers kan maak. Veral omdat geweld dikwels met dié tipe misdaad gepaardgaan.
– Voertuigkapers, soos baie ander misdadigers, maak staat op hul slagoffers se gebrek aan waaksaamheid.
Die kapers wil juis die voertuigeienaar by die voertuig hê om die sleutels te gee en enige immobiliseerders en alarms in die voertuig te deaktiveer. Hul hoof oogmerk is om so vinnig moontlik met die voertuig weg te kom. Daarom word daar dikwels nie gehuiwer om die slagoffer seer te maak of selfs dood te maak nie.
– Voertuigkapers werk selde alleen, maar eerder in georganiseerde groepe.
– Die heel belangrikste wenk is om te alle tye waaksaam te wees wanneer jy op die pad is.
Wees versigtig, sou iemand jou kar onder verdagte omstandighede nader by stopstrate, verkeersligte, parkeerruimtes of selfs in jou oprit. Maak ook seker sou dit iemand wees wat hulle voordoen as wetstoepassers, dat dit wel ‘n gemerkte voertuig is en die persone die korrekte identifikasie kan toon.
– Moet nie die fout maak om te dink dat voertuigkapers altyd net mans is nie.
– Voertuigkapers is dikwels netjies geklee en sal ook soms ‘n baadjie of trui dra juis om vuurwapens weg te steek.
– Voertuie wat deur kapers gebruik word is meestal hoë spoed voertuie waarvan die ruite dikwels getint is
– Voordat hulle toeslaan sal hulle bes moontlik stadig beweeg in ‘n sekere gebied, gewoonlik vir ‘n paar dae voor ‘n kaping.
Hulle kan selfs in ‘n geparkeerde motor, langs die pad, of in ‘n parkeerruimte wag.
Hoe kan jy help?
Jy moet enige verdagte voertuie wat in jou woonbuurt of op ‘n bepaalde roete sou beweeg, onmiddellik aan jou naaste polisiestasie rapporteer.
Probeer om ‘n duidelike beskrywing van die voertuig, kleur en registrasienommer te gee.
Hou altyd in gedagte dat sentrale sakekerns en gebiede die naaste daaraan hoë risiko gebiede is. So ook woongebiede en die oprit van huise, asook ongepatrolleerde en onbemande parkeerruimtes. Waak daarteen om wanneer jy bestuur, op jou selfoon te praat, omdat juis dit jou aandag aflei van die pad en omgewing om jou. Wenke in die rubriek is saamgestel deur Die Speurder, rubriekskrywer, Parys Gazette).

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button