NewsNews

Op ekspedisie vir watervoël sensus

VANDERBIJLPARK. – Twee maal per jaar kom die Vaaldriehoek se voëlkykers en kenners bymekaar om die watervoëls tussen Stonehaven-on-Vaal en Lochvaal te tel. Die geveerde sensus word vanaf bote gedoen en die vrywilligers is almal met verkykers en kameras gewapen. Saterdag, 25 Januarie was geskeduleer vir die eerste groot Coordinated Waterbird Count (CWAC) vir die …

Saterdag, 25 Januarie was geskeduleer vir die eerste groot Coordinated Waterbird Count (CWAC) vir die jaar. As jy wil saamgaan op ‘n CWAC, uitgespreek as “quack”, moet jy bereid wees om vroeg te roer op ‘n Saterdagoggend. Sesuur het almal bymekaar gekom vir die nodige registrasie en om te hoor wie vaar waar en wie tel saam op watter boot.

Die groot boot se leier, Andrè van Zyl beduie hoe die voëls afgemerk moet word. Daar is 24 verskillende soorte vanaf die groot boot getel.
Foto’s: Gerda Bruinette

 

Een van die kleiner bote vaar in die omgewing van Lochvaal, terwyl die ander een koers kry rigting Taaibosspruit. Op die groot boot word al die watervoëls op en langs die Vaalrivier afgemerk. Eers word daar uitgekyk vir die geveerdes aan die Gauteng kant en met die omdraaislag word die Vrystaat kant se voëls getel.
Daar is natuurlik altyd die moedswillige geveerdes wat nie by hul kant van die rivier hou nie. Vroegoggend is daar ‘n ge-vlerkklap en snawel-byt dat die water spat aan die gang is in die middel van die rivier. Dit blyk toe Egyptian Geese (kolganse in Afrikaans, maar dis ‘n eend en nie ‘n gans nie) te wees, te midde van ‘n liefdesdriehoek.

Na die groot geveg met ‘n ander mannetjie, het hierdie kolgans maar besluit wegvlieg terwyl hy nog kan, isdie beter opsie.

Die twee mannetjies het mekaar behoorlik aangevat. Dit was so amper of die een het die ander verdrink. Die wyfie het hul net so ‘n skewe kyk gegee en toe rustig verder geswem. Later in die oggend het ‘n reusereier weer vermaak verskaf toe hy eers aan die Vrystaat kant geposeer het en daarna met groot vertoon oor die water gevlieg het. ‘n Rukkie later het hy egter weer teruggevlieg en soos ‘n wafferse model bo-op ‘n wilgerboom gaan staan.
Elke keer het die kameras geklik, want soos die skipper gesê het: “Die reier bly dieselfde, maar die agtergrond verskil darem.”
Vroegoggend se koue wind en reën het later plek gemaak vir sonskyn. Soos die temperatuur gestyg het, het al hoe meer voëlspesies hul verskyning gemaak. Vlak voor middagete was alle vrywilligers weer op die wal. Terwyl almal aan ‘n heerlike middagete (geborg soos die bote ook) deur Stonehaven-on-Vaal) gesmul het, het die bootleiers die dag se statistiek afgerond.
Daar is 2 089 voëls getel wat uit 36 verskillende spesies bestaan het. Die kolganse was by verre die meeste op 692, maar die grootste opgewondenheid is veroorsaak deur die waarneming van vier nimmersat ooievaars (Yellow Billed Storks) in die Taaibosspruit-area.
Die bruin eend (Southern Pochard) het ook vir die eerste keer sy verskyning op die Vaalrivier gemaak. Volgens organiseerder, Cliff Wright, vergelyk die statistiek goed met September 2019 se getalle. Die volgende CWAC behoort so net na die ergste winterkoue plaas te vind in Augustus of September. Vir meer inligting oor die Vaal Voëlklub se doen en late, kontak gerus vir Rina de Klerk by 082 626 6990.

Op ekspedisie vir watervoël sensus

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button