NewsNews

Dit maak my trots Parys!

Hangbrug kry weer nuwe baadjie

Vandag haal ek my hoed af vir mense wat in die bloedige son met kwaste en rollers gebukkend staan en verf.

Wat worsbroodjies en  lekkernye verkoop vir hulle wat kom help het.

‘n Handjievol mense wat vanoggend vroeg al by die dorp se hangbrug aan die werk was. Mense wat bygedra het om die projek moontlik te maak.

Wanneer hulle vanmiddag oppak is ‘n songebrande vel en ‘n lyf wat sy eie taal praat van pyne wat jy nie vroeër gehad het – dit wat hulle huistoe vat. Nie betaling of ‘n klop op die skouer nie.

Nee – net die wete dat daar vandag ‘n verskil in ‘n dorp gemaak is en dat jy deel was daarvan.

Wat die hangbrug wat oor jare een van die dorp se grootste toerisme aantreklikhede is, weer netjies te maak.

‘n Dorp wat nie kan staatmaak op groot nywerhede of ander industrieë om ekonomies lewensvatbaar te wees nie. Toerisme is  wat ons het en wat die die hartklop is van Parys en sy mense.

Vanoggend se vrywilligers is soos ander van wie jy dalk nooit hoor nie, elkeen ongesiens besig om hul deel te doen. Om week na week die vullisdromme langs die rivieroewer skoon te maak, die grafitti op die hangbrug telke male toe te verf, wat parke en slote en vore skoonmaak sodat die vullis en ander gemors nie in die Vaalrivier beland nie. Die rivierwater wat ek en jy moet drink.

Hulle wat die dorp probeer verfraai, sorg vir hulle wat minder het, die DBV se deure oophou met gewillige hande en oop harte.  Die museum sonder fondse oophou vir besoekers. Slaggate toestop.

Paramedici van ander dorpe wat sonder vergoeding naweke in Parys kom help om die dorp se nooddienste by te staan wanneer hande kort.

Vrywilligers wat patrollies ry en mense in nood bystaan.

Almal mense vir wie ek vandag my hoed afhaal. Omgee-mense. Mense wat ‘n dorp aan die gang hou.

En dan dink ek aan die droë krane wat jy keer op keer kry as jy by die huis kom. Die knaende Eskom-donkerte en munisipale onvermoë om instand te hou en te doen wat gedoen moet word om ‘n dorp te bestuur.

Ek dink aan die vele klaagliedere en kritiek en vinger wys op Facebook-blaaie. Onvergenoegdheid en dwarstrek en moddergooi oor wie te blameer is.

Dit is dan wanneer ek my hoed afhaal vir dae soos vandag en dit wat ek by die hangbrug sien.

Aan die spreekwoord van woorde wek, maar dade trek.

Die man wat so vrypostig sy verfdienste op die brug met grafitti geadverteer het was nie vanoggend daar nie. Ook nie die wat gereeld oor die vuil gemors by die hangbrug kla nie. Wat wag op ‘n munisipaliteit om verantwoodelikheid te aanvaar nie.

Nee hulle wat dat was wou daar wees- wou ‘n verskil maak.

En dit maak my trots op my dorp!

Dankie aan die volgende instansies wat bygedra het tot die hangbrug-projek met donasies en hulp:  Parys Rotary, Community Care, Lewis Balink Foundation, Arnold Schoonwinkel en Shirley Vermaak, Parys Gazette, Johan en Wanda du Preez, Susan, Stev van Renov en Yvette Coetzee, Shawn Stevens en Diane van Nieuwenhuyzen en al die verwers, helpers en uitstallers. 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button