NewsNews

Vasgemaak om ‘n verskil te maak

Vasgemaak om 'n verskil te maak

Gyselaarsdrama? Beslis nie.
Hierdie was Parysenaar Diane van Nieuwenhuyzen se poging om die afgelope naweek fondse in te samel vir die Saterdag, 1 Februarie, se gemeenskapsprojek wanneer Parys se historiese hangbrug weer ‘n nuwe verfbaadjie kry.
So het sy haarself Saterdag en Sondag vir ‘n paar uur op ‘n dag aan die brug vasgemaak wat Gholfeiland met die dorp verbind. Die brug is in 1919 opgerig, maar weinig is vandag bekend oor hoe dit gedoen is, en wie die kontrakteur was.
Tog is dit vandag nog een van die dorp se bekendste bakens en steeds ‘n gewilde toeriste besoekpunt.
In 2013 het Elise Bosman en Tanja Holtzhausen, saam met ‘n hele groep vroue en vrywilligers uit die gemeenskap hande gevat met die munisipaliteit se parke-afdeling om die brug weer netjies te maak en dié kosbare erfenis te herstel tot sy eertydse prag. Daar is geverf, gesweis, draadwerk herstel, skoongemaak, ‘n inligtingsbord opgesit en selfs betonbankies op die rivieroewer by die brug geplaas.
Nou, sewe jaar later, sal Diane en Shawn Stevens saam met vrywilligers, sakelui uit die gemeenskap en instansies weer die projek dryf om die brug netjies te kry.
Ongelukkig loop die brug gereeld deur onder vandale en mense wat vullis hier stort. Jy kan egter help om ‘n bydrae te lewer tot hierdie toeriste-juweel van ‘n dorp wat afhanklik is van toerisme vir sy voortbestaan.
Daar is nog heelwat fondse nodig vir Saterdag se projek. Enige skenking – rollers, verfpanne, kwaste, draad – hoe gering ook al, sal help. Of dalk wil jy self ‘n uur of twee kom hand bysit vanaf 09:00 Saterdagoggend. Jy kan Diane by 071 388 0446 skakel om te hoor hoe jy kan help. As jy elektronies ‘n bydrae wil maak gebruik die volgende besonderhede: Iris Andres T/A Parys Museum, FNB, takkode 230735, rekeningnommer 62769589600. Gebruik asseblief die woord ‘hangbrug’ as verwysing.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button