News

Korona-virus: “Baie Suid-Afrikaners in China is paniekerig, maar ons is rustig”

"Baie Suid-Afrikaners in China is paniekerig en wil huis toe gaan, maar ons is rustig."

“Ek het vanoggend gelees daar is 12 mense in ons stad (Hangzhou) met die Korona-virus gediagnoseer.”

“Baie Suid-Afrikaners in China is paniekerig en wil huis toe gaan, maar ons is rustig. Baie mense is al van die virus genees en byna al die mense wat weens die virus dood is, was bejaarde mense met reeds bestaande siektetoestande. ”

So gesels Marianke Saayman, ‘n oud-kollega van Gazette se susterskoerant, die Potchefstroom Herald, wat op 31 Desember saam met ‘n vriend Potchefstroom gegroet het om te gaan skoolhou in Hangzhou, China.

Ten spyte van die vrese oor die dodelike Korona-virus, gesels Marianke opgewonde oor die ongelooflike belewenisse wat hulle die afgelope maand in China gehad het en die Chinese Nuwejaar wat ook vandeesweek gevier word. “Dit is baie skoon en veilig hier”.

As gevolg van die virus en die vinnige verspreiding daarvan, word beweging beperk, en is hulle genoodsaak om tuis te bly hoewel hulle tans op vakansie is.

“Wanneer ons winkel toe gaan, sit ons maskers aan. Baie van die winkels se maskers is al uitverkoop. Treine is ook stil en leeg.”

Dit is vreemd om ‘n besige stad so stil te sien, vertel Marianke.

Marianke Saayman met die maskers wat inwoners dra in ‘n poging van owerhede om die verspreiding van die dodelike Korona-virus te voorkom. 

Die meeste Korona-virus gevalle was tot dusver in Wuhan waar die virus ontstaan het. Wuhan is sowat 750km van Hangzhou, maar  in Hangzhou self is nog tot dusver geen sterftes aangemeld nie, sê Marianke.

“Ons skole sou Vrydag weer begin, maar soos wat dit nou lyk, gaan ons al ons klasse aanlyn aanbied sodat die kinders nie skool toe hoef te gaan nie.”

Meer oor die Korona-virus

Die eerste pasiënt is op 31 Desember met die Korona-virus gediagnoseer. Sedertdien is 80 mense reeds aan die virus dood en byna 3 000 mense met die virus besmet. Meeste van die gevalle is in China, maar daar is ook enkele gevalle in ander lande soos Australië, Viëtnam, Singapoer, Japan, Suid-Korea, Taiwan, Thailand en Amerika, aangemeld.

Die virus staan tans as die 2019 nCoV bekend, en is nog nie vantevore in dié vorm in mense gevind nie. Die naam is afgelei van die kroonvorm van die virus as dit onder ‘n mikroskoop bekyk word.

Dit word in die lug oorgedra en tas meestal die boonste respiratoriese en spysverteringstelsel van mense en voëls aan.

Simptome is baie soos dié van die Sars  (ernstige akute asemhalingsindroom) en die Mers-virus (Midde-Ooste asemhalingsindroom). Byna 800 mense is in die vroeg 2000’s dood aan die Sars-virus. In 2012 het 282 mense aan Mers gesterf.

Tot dusver teiken die Korona-virus meestal ouer mense wat ook ander chroniese siektetoestande het soos Parkinsons en diabetes.

Die virus het by ‘n mark in Wuhan ontstaan. Die mark is van die begin van 2020 geesluit. Aanvanklike navorsing het aangedui dat die virus van slange, maar ook bes moontlik van rotte as potensiële draers na mense oorgedra kan word.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button