NewsNews

“Ek dink so aan die dag wat ons haar weer sal sien”

Die druppels vorm trane op ons harte se punt, maar geen skilder kon so vinnig sy kunswerk voltooi.

“Die dag toe haar potjie verf skielik omval, het dit oor die land geloop en harte van duisende mense oorstroom. Die druppels vorm trane op ons harte se punt, maar geen skilder kon so vinnig sy kunswerk voltooi. Ons is lief vir jou ons mooiste meisietjie, en ons kan nie wag om jou aan die anderkant te sien nie, waar jou verkwassie net nog meer versier.”

Roerende woorde van ‘n ouerpaar wat gister, Vrydag 17 Januarie, hul dogtertjie kort voor haar tweede verjaardag moes begrawe. Maar die dood van klein Juané Greeff wat op 9 Januarie op die plaas Mooihoek in die Vredefort Koepel gesterf het, na ‘n tragiese frats motorongeluk, het ‘n gemeenskap laat laer trek om haar ouers, Juan en Jani Greeff.

Te midde van die oneindige gemis van klein Juané wat met haar helder laggie  hartspore  gelaat het in die harte van die gemeenskap van Vredefort, is haar lewe gevier.

In sy boodskap uit Jeremia 15,  het past. Neville Goodchild, gesê dat niks geloof so beproef soos die onverwagse dood van ‘n geliefde nie. Dat dit moeilik is vir gelowiges om aan te beweeg as jy nie verstaan nie. “Dit werk nie vir gelowiges om te sê God pluk rose nie. Tog is dit nie omstandighede wat God definieer nie, maar God definieer omstandighede. As jy Hom toelaat in jou pyn, sal Hy jou toelaat om reg voor Hom te kom staan en sal jy Sy mondstuk wees om te getuig in ‘n gebroke wêreld.”

“Ek kies nie om te vra hoekom nie. Ek staan by my geloof. Ek kies om by Jesus te staan en te sê…sodat”.

Juan wat ook pastoor van die AGS gemeente in Vredefort is, het in sy boodskap gesê dat hierdie die moeilikste ding is wat ‘n Pa moet doen, maar dat dit ‘n gemeenskap se gebede is wat hom en Jani krag gee . “Ek dink so aan die dag wat ons haar weer sal sien. Ons is net vir ‘n oomblik van mekaar geskei, maar ons gaan nie ‘n ewigheid sonder mekaar wees nie. As jy vandag haar lewe wil eer, kry jou saak reg, kry ons daar…dit is die wenstreep.”

Juan Greeff (tweede van links agter) en Jani Greeff (regs voor) word vertroos deur vriende, familie en die gemeenskap van Vredefort. Hul dogtertjie, Juané, is Vrydag begrawe. Juané sou op 12 Februarie twee jaar oud gewees het. 

 

Hy het sy boodskap afgesluit met die woorde dat hul dankbaar is in die wete dat klein Juané veiliger is as wat sy ooit op aarde kan wees en dat sy gelukkig is.

Dankie aan elkeen wat op watter manier ookal die afgelope week na die familie uitgereik het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button