News

Waterkrisis: Water sal gespaar moet word

Waterkrisis: Water sal gespaar moet word

Die groot watertekort wat Parys ervaar, is deels toe te skryf aan probleme met die netwerk wat oor jare nie behoorlik in stand gehou en opgegradeer is nie. Die gevolg is dat toevoerpype gereeld bars, terwyl die sporadiese diefstal van kabels by substasies en elders, pompaktiwiteite kortwiek.
Die twee suiweraars by die watersuiweringsaanleg is egter oor lang periodes ook nie behoorlik onderhou nie, tot die mate dat nie een tans nog behoorlik funksioneer nie.
Die hoofwaterwerke kan nagenoeg 15 megaliter water per dag suiwer, terwyl die sogenaamde pakketaanleg wat sowat vier jaar gelede tot die waterwerke bygevoeg is, ‘n addisionele 10 megaliter per dag kon suiwer, waar water uit die Vaalrivier onttrek word.
Tans het Parys dus net 15 megaliter gesuiwerde water per dag beskikbaar.
Die rede hiervoor? Elke suiweraar by die waterwerke bestaan uit vyf komponente soos op die grafiese voorstelling gesien kan word.
Hiervan funksioneer tans net een komponent van die betrokke suiweraar en dan ook net deels.
Die munisipaliteit moes gevolglik die pakketaanleg suiweraar in geheel onttrek sodat dit volledig herstel kan word. Hierdie stap verminder noodwendig die suiweringsvermoë vir drinkwater vir die dorp met omtrent die helfte.
Volgens VF Plus Raadslid Phillip van der Merwe, op wie se aandrang Ngwathe burgemeester, Joey Mochela, ‘n spesiale Waterkrisistaakspan saamgestel het wat waterkrisisse regdeur Ngwathe hanteer, gaan dit ongeveer R5,5 miljoen kos om een suiweraar weer in volle werkende toestand in bedryf gestel te kry.
“Fondse daarvoor moet eenvoudig van iewers bymekaargeskraap word, anders gaan die watersituasie nog baie meer kritiek raak,” sê hy.
Parysenaars is intussen gevra om, hoe moeilik dit ookal mag wees, begrip te hê vir die kritieke fase waarin die suiweringswerke is, en om water so spaarsaam moontlik te gebruik.
Volgens rdl. Van der Merwe is Parys nie die enigste dorp in Ngwathe met waterprobleme nie. Probleme met watervoorsiening word in al vier die Ngwathe dorpe ondervind.
Die Ngwathe dorpe is Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville.
Die munisipaliteit het Rand Water verlede jaar om hulp genader om die hele Ngwathe se waterprobleme aan te spreek. In Junie 2019 is, as eerste stap, ingenieurs aangestel om waterkwessies regdeur die munisipale gebied te ondersoek en aanbevelings te maak.
Uit hul verslag is dit duidelik dat die probleme by Parys se suiweringsaanleg grootliks vererger word deur die feit dat water in die Vaalrivier so erg besoedel is dat dit meer as net die normale prosesse vereis om 100% gesuiwer te word.
Daar is voorgestel dat ‘n voorafsuiweraar tussen die inlaat en hoofsuiweringsapparaat geïnstalleer moet word om in die eerste plek van die ergste besoedeling ontslae te raak voordat die water na die hoofsuiweraars gepomp word. Tans word daar volgens rdl. Van der Merwe ondersoek gedoen oor hoe hierdie aanbeveling gefinansier en geïmplementeer kan word. Die beplande datum van voltooiing van die herstelwerk aan die eerste suiweraar is einde Februarie 2020.
Wanneer die projek voltooi is, sal planne beraam moet word om fondse te vind om ook die ander suiweraar volledig te herstel. “Eers dan sal Parys weer voldoende suiwer water vir almal beskikbaar kan hê,” sê rdl. Van der Merwe verder.

Related Articles

Back to top button