News

Blikkiesfees met ‘n verskil

Blikkiesfees met 'n verskil

Parys hou weer Blikkiesfees, maar dié keer met ‘n verskil. Die tema is, “‘n Blikkie vir ‘n Boer!”
“Ons is vreeslik opgewonde om ons deel te doen vir ‘n bydrae waar die nood druk,” sê die organiseerders.
Selfs motorfietsklubs word vanjaar betrek in samewerking met Sakkie Gelderblom vir ‘n sogenaamde “blikkie run”.
Die plan is om ‘n blikkie-piramide te bou om ‘n nuwe rekord op te stel vir die meeste blikkies nie-bederfbare voedsel. Die blikkies sal versprei word na boere in van die ergste droogtegeteisterde gebiede in ons land, in samewerking met Burre Burger van die Noord Kaap Noodhulpfonds.
Die feesdatum is reeds om die draai. Maak seker jy’s daar op 29 Februarie van 09:00 tot 18:00 op die kerkterrein van die Hervormde Kerk, Parys (h/v Loop- en Paulsenstraat).
Die toegang is R20 vir volwassenes plus ‘n blikkie nie-bederfbare kos, terwyl kinders gratis ingaan en net ‘n blikkie kos moet saambring. Daar sal ook ‘n bywonings lapelwapen te koop wees teen R10 by die hek.
Hoewel daar minder kunstenaars vanjaar sal optree omdat daar gefokus word op hulp aan die boere, kan die publiek uitsien na die Magalies Boere-orkes asook Chrissie Rossouw, en Reinhardt Venter wat ook verlede jaar met die fees hier gehoor is.
Kom smul aan heerlike basaarkos en daar sal selfs ‘n biertuin op die terrein wees vir die dorstige kele.
Jy kan ook ‘n vakansie midweek by Ukweza, Marlothpark wen. Koop jou kaartjie teen R50 per kaartjie. Die trekking sal by die fees gedoen word.
Ander kerke sal genader word om deel te neem aan die projek, en belangstellende borge en besighede wat ‘n bydrae wil lewer tot die dag is welkom om Gerhard by 082 436 0501, of Hester by 084 516 9447 te skakel.
Kunsmark stalletjies (maksimum 40) is beskikbaar en belangstellendes kan Alta skakel by 082 065 9649 vir meer inligting.
Kom ons maak van dié fees ‘n groot sukses om ook so uit te reik na boere in nood.
Blikkies nie-bederfbare kos kan nou reeds op Dinsdae, Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 13:00 afgelewer word by die Hervormde Kerk, Parys, h/v Loop- en Paulsenstraat, of skakel die kerkkantoor by (056) 822 5026.

 

 

Related Articles

Back to top button