News

‘Diep kyk, deur kyk, wyd kyk’

“As jy volmaaktheid in ‘n stukkende wêreld ervaar, besef jy hoe bevoorreg jy is. Koester die lag van ‘n kind, ‘n mooi sonsondergang, want dit bly ‘n voorreg om te kan sien.”

“Ons sit met harde werklikhede vandag. Jy het twee maniere om daarna te kyk. Vlak kyk, nou kyk, pyp kyk, vaskyk…of diep kyk, deur kyk en wyd kyk. Kyk verder as die nou. Dan het jy insig (in sig).”
Dit was die boodskap van prof. Fika Jansen van Rensburg, afgetrede rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus tydens die toerustingsnaweek van die Voortrekkers wat as eerste nasionale saamtrek vir die beweging die afgelope naweek op Udolpho net buite Parys gehou is.
Met die tema – Slaaf vir Christus tot jou diens – geroep, gerat en getaak vir ‘n tyd soos dié, het prof. Fika ‘n boodskap van hoop gehad, nie net vir die Voortrekkers nie, maar vir Suid-Afrikaners vandag.
“As jy volmaaktheid in ‘n stukkende wêreld ervaar, besef jy hoe bevoorreg jy is. Koester die lag van ‘n kind, ‘n mooi sonsondergang, want dit bly ‘n voorreg om te kan sien.”
“Mens moet insig hê om te besef jy kan nie op jou eie insig staatmaak nie. Jou lyf se oë het beperkte visie, daarteenoor kyk ‘n geloofsoog deur harde werklikhede,” het prof. Fika gesê.
Sy boodskap was dat jy nie dinge van een kant moet sien nie – net dan sal jy ander verstaan. “Vier jou eie identiteit – nie vermetel of trots nie, maar verwelkomend. Hoe beter Afrikaner jy is, hoe beter Suid-Afrikaner sal jy wees.”
Hy het aan die hand van die Bybelse gelykenis van die mostertsaad gesê “God se regeer deurbreek realistiese verwagtinge”.
Prof. Fika het sy boodskap afgesluit met die bekende Langenhoven-woorde: “Ek hou van ‘n man wat sê wat waar is, as die duiwel daar is. Wat doen wat reg is, as die regter weg is. Wat trou by sy gewete bly as hy straf in plaas van beloning kry.”

Related Articles

Back to top button