NewsNews

Gimmie-matrikulant staan op teen kanker

Gimmie-matrikulant staan op teen kanker

Phia Badenhorst het ten spyte van kanker, matriek met 2A simbole geslaag en vir Noordwes hokkie gespeel.

Vir die meeste matrikulante is hul finale jaar op skool ‘n mengelmoes van harde werk, eksamens en verskeie aktiwiteite en byeenkomste soos die matriekafskeid, sowel as sport en kulturele byeekomste. Dit is amper ondenkbaar dat siekte ook nog deel van die prentjie moet word.

Vir Potchefstroom Gimnasium se vasberade en heldhaftige matrikulant, Phia Badenhorst (18), was siekte in die vorm van ‘n skaars disgermoon kanker haar realiteit vir die afgelope twee jaar. Tog het sy genoeg geloof, moed en ondersteuning gehad om haar omstadighede te oorkom om twee onderskeidings, te werwerf – in Lewensoriëntering en Engels Addisionele Taal.

Phia en haar tweelingsussie Hanlie, wat haar al die pad in haar kankerstryd ondersteun het.

Phia en haar tweelingsussie Hanlie, wat haar al die pad in haar kankerstryd ondersteun het.

Die kersie op die koek is dat Phia gister (9 Januarie) gehoor het dat sy nou in remissie is en dat sy stelselmatig kan gesond word, na ‘n baie harde paar maande waar pure wilskrag, geloof en vasberandenheid haar tot genesing gebring het.

Phia is bekend in haar skool en provinsie vir haar uitmuntende hokkiespel en liefde vir die soprt wat sy saam haar tweelingsussie, Hanlie, deel. Alles in Phia se lewe het fantasties verloop. Sy kon haar geliefde sport beoefen, talle wedstryde vir haar skool en haar provinsie speel en het haar drome uitgeleef…tot sy die skokkende nuus in Februarie 2018 moes aanhoor dat sy met kanker gediagnoseer is.

“Dit was ‘n massiewe skok vir my. Ek het nooit gedink dat dit met my sou gebeur nie. Ek was gesond en het gereeld geoefen. Die kanker was ‘n baie rare vorm wat in my buik was, so die pyn was baie erg. Die ondersteuning wat ek by my familie, ouers, vriende en veral my tweelingsussie gekry het was ongelooflik,” vertel Badenhorst wat verskillende chemoterapie-sessies vir die kanker moes ondergaan.

Phia is ‘n kranige hokkiespeler vir haar skool en provinsie. Foto’s: Verskaf

“Ek het naar geword en ook my aptyt verloor, omdat die behandeling en bestraling vir my ‘n slegte smaak in my mond gegee het. Ek was ook vreeslik moeg en het min energie gehad. Die ergste vir my, was toe ek my hare verloor het. Dit is vir my die kenmerk van ‘n meisie, so ek was baie hartseer daaroor. Dit was nie net my hare nie, maar ook my wimpers en wenkbroue. Ek kon darem ‘n pruik dra,” noem sy.

Phia moes vir verskeie operasies gaan en het ook sodoende met haar siekte baie skool gemis en moes ekstra hard werk om op te vang en die werk onder die knie te kry.

“Ek is dankbaar dat Gimmies my so mooi gehelp het dat ek die jaar kon deurkom. Daar was ongelooflike ondersteuning, want ek kon net sowel my matriek in twee jaar moes doen. Darem het als mooi uitgewerk. Dit het ook gehelp dat my sussie omtrent dieselfde klasse gedraf het as ek so dit het my baie gehelp,” vertel Phia met groof lof van haar jonger tweelingsussie.

“Ek is baie lief vir my sussie. Ons twee is saam deur die moeilike tye wat maak dat ek soveel meer waardering vir haar het,” noem Phia.

‘n Ander merkwaardige prestasie van Phia in 2019 is haar hokkie deelname en dat sy haar skool op die hokkieveld, ten spyte van die kanker, verteenwoordig het.

“Ek wou so graag speel en was doelgerig om my laaste jaar as ‘n Gimmie op die hokkieveld te spandeer. Ek wou nie uitmis nie!” noem Phia wat gewoonlik in die agterlyn speel.

Phia se plan is om vanjaar haar studies by die NWU se Potchefstroomkampus voort te sit met ‘n graad in Verbruikerswetenskap. Sy gaan ook by Minjonet Dameskoshuis ingeskryf wees.

“Ek wil graag hokkie speel vir die NWU en aanhou met die sport wat ek lief het. Dit gaan wel snaaks wees om nie saam my sussie te speel nie. Ons speel al saam sedert ons sewe is. Sy gaan in Bloemfontein by Kovies, Radiologie studeer. Ek gaan haar baie mis, maar ons gaan elke geleentheid gebruik om bymekaar uit te kom as ons kan,” sê Phia.

Nou begin ‘n nuwe hoofstuk vir Phia in Potchefstroom – een wat sy met dankbaarheid kan begin en weet dat enige beproewing wat oor haar pad gekom het haar net sterker maak.

“Met jou familie en die Here aan jou kant kan ‘n mens enige iets oorwin en jou drome bereik.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button