NewsNews

Oom Sam was ’n omgeemens en passievolle Voortrekker

Voortrekkers groet 'n groot leier

Talle Voortrekker kommandolede sal Sondag 5 Januarie afskeid neem van ‘n baie geliefde en bekende oudleier van die Voortrekkers in die Vrystaat, Samuel Brayshaw.
Sondag se gedenkdiens is om 11:00 in die Hervormde Kerk in Heilbron en sal deur die Voortrekkers in formele drag bygewoon word.
Brayshaw is op Nuwejaarsdag met ‘n skietwond op sy plaas naby die Vegkop-terrein by Heilbron gekry. Geen misdaad word vermoed nie.
Hy was 53 jaar oud.
Brayshaw het van 2009 tot 2017 as gebiedsleier van die Vrystaatse Voortrekkers gedien. Hy was sedert 1975 ‘n Voortrekker en kinders van die Vrystaatse Voortrekkers was baie erg oor hom.
Hy was ‘n medemens en Afrikaner in murg-en-been wat diep spore in kultuurkringe getrap het, en gewild was onder oud en jonk.
As boer het hy ‘n diepe liefde vir die veld en sy plaas gehad, het Danie Langner, hoofleier van die Vroortrekkers gesê. Hy het Brayshaw beskryf as ‘n sagmoedige reus wat die belange van die kind altyd eerste gestel het, en ‘n geweldige bydrae gelewer het tot die ontwikkeling van die Doornkloof-plaas waar die Vrystaatse Voortrekkers gereeld kamp. “Sy rykdom het in sy barmhartige hart gelê.”
Volgens Langner het Brayshaw die laaste paar maande baie met sy gesondheid gesukkel.
Willie Engelbrecht, Vrystaatse gebiedsleier van die Voortrekkers, het op Nuwejaarsdag die Voortrekkers in die Vrystaat se innige medelye met die familie betuig. In die talle boodskappe van medelye wat op sosiale media geplaas is, is getuig hoedat Brayshaw baie lewens aangeraak het.
“Dit was ‘n voorreg om Samuel te kon ken. Altyd vriendelik, belangstellend, omgeemens wat hy was, passievolle Voortrekker wat altyd ‘n verskil gemaak het in elkeen se lewens.”
“Oom Sam was ‘n ongelooflike mens met die grootste hart en liefde vir almal.”
Brayshaw word oorleef deur sy vrou, Ingrid, kinders Hanneke, Riëtte en Nico.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button