Suid-Afrika se swak ekonomie, die staat se onvermoë om werksgeleenthede te skep, die omstrede arbeidswette wat teen blankes diskrimineer en die toenemende misdaad en geweld veroorsaak dat gekwalifiseerde landsburgers die land verlaat.
Volgens agentskappe is daar ‘n toename in mense met goeie gekwalifiseerde beroepsrigtings wat hulle na die buiteland begewe. Daaronder tel veral ingenieurs, dokters, regsgeleerdes wat uitwyk na Amerika, Europa en Australasië (Australië en Nieu-Seeland). Volgens die agentskappe het hulle hierdie jaar sowat 40% meer aansoeke hanteer as verlede jaar. Dit veroorsaak ‘n tekort aan goeie werkerskorps in Suid-Afrika. Vaardigheid is van uiterste belang vir SA.
Selfs die vakbond Numsa het dit nou na 25 jaar besef. Dit is volgens hulle ook belangrik dat daar geen vervanger vir kundigheid is nie en het ‘n beroep gedoen om ’n span deskundiges in samewerking met die vakbonde, saam te stel om Eskom van ondergang te red.
Die kundiges sluit glo ‘n lys van sowat 350 ingenieurs in wat terug na SA gebring moet word.