NewsNews

Parys pronk met positiewe gesindheid

Parys pronk met positiewe gesindheid

PARYS. – Die klein plattelandes dorp het ‘n groot hart en het dit onlangs lewensgroot ten toon gestel met die indrukwekkende muurskildery vir die #ImStaying Parys-projek so reg by die dorp se ingang.

Inwoners het reeds ‘n paar weke gelede opgemerk hoe daar hard gewerk en geverf is. Nou is dit klaar en word inwoners en besoekers daagliks met ‘n positiewe boodskap begroet. Dit het ook die oog van die #ImStaying Facebookgroep gevang en is onlangs daar opgelaai deur Isaak Makokwane wat die dorp besoek het.

Die foto en boodskap wat hy op die groep gedeel het, het intussen sowat 4 000 “likes” en amper 30 “shares”geniet.
Die muurskildery vir die #ImStaying Parys-projek is die idee van kunstenaar Deon Terblanche. Hy wou daardeur wys dat baie Parysenaars ook die #ImStaying inisiatief ondersteun en eerder die positiewe wil uitlig as om oor die negatiewe te kla.

“Ek hoop dat die muur inwoners elke dag sal aanspoor om positief te wees en aan besoekers die boodskap oordra dat ons dorp positief is, en graag wil saamwerk om ’n beter Suid-Afrika te skep,” verduidelik Deon.

Daar is baie moeite gedoen om die plan deur te voer. Die muur moes eers gepleister en met ‘n onderlaag behandel word.

Twee kante van die gebou is daarna gebruik. Die muurskildery aan die sykant beeld drie kinders uit wat opkyk na passasiersvliegtuie wat die land verlaat. Die passasiers gooi as ’n laaste vaarwel Strelitzia-blomme (S.A. se nasionale blom) uit, wat impliseer dat hulle hul erfenis agterlaat. Die kinders op die aanloopbaan stel die toekoms van Suid-Afrika voor.

Op die voorkant pronk #ImStaying.

Maar 46 vierkante meter is ‘n vreesaanjaende area om te verf! Dit het altesaam sewe weke geneem om te voltooi. Dankie aan die mede-skilders: Selma, Mariaan, Heloïse, Jo-Marié, Linda, Aaron en Thomas.

Kunstenaar Deon Terblanche voor die muurskildery.

‘n Kunswerk in wording. 

Baie dankie ook aan al die borge wat hierdie projek moontlik gemaak het. ’n Bord met al die borge se name sal binnekort langs die muurskildery aangebring word. Die borge – Gastehuise: Boom 69, Casa Cara, Egweni, Kondensmelk, La Splendia, Lavender Place, Le Grand Chateau, River Rock, Rus en Vrede on Vaal, Stonehenge in Africa, The French Affaire, The Purple Pillow, Waterfront, Woodlands. Besighede: Botes Sand, Dog & Fig Brewery, It’s Ink Printers, Jolaine Woodcraft, La Oma Butchery, Liquor City Parys, Nommer Asseblief, Petit Jardin, Pickled Pig, River Spa, The PQube Way, Wesley’s Parys, Willie Hallaby Loodgieters. Privaat: Gary & Amanda, Leida Schuman, Marti Buckley, Reinet Joubert, Zelda Nel Bezuidenhout. Winkels: Anything Beautiful, Crater Coffees, Elineze Kuns, L.Design Group SA, Matsimela Home Spa, The Garden.

* Ja, die Strelitzia is Suid-Afrika se ‘oorspronklike’ nasionale blom. Die Koningsprotea is later bygevoeg. Tans word beide erken as nasionale blomme van S.A.

* Om ‘n positiewe gesindheid te kweek en hoop om verbetering te ondersteun is die rede waarom Jarrette Petzer met die Facebook-groep #ImStaying begin het. Die landwye groep het binne ’n maand meer as 400 000 lede gewerf en groei steeds.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button