News

NWU-student inspireer

NWU-student inspireer

‘n NWU-student, Sebastian Links, het mense se harte aangeraak nadat hy sy lewensverhaal met luisteraars van Jacaranda FM se radioprogram, Good Morning Angels, gedeel het.

Sebastian, wat volgende jaar ‘n honneursstudent in onderwys is, studeer voltyds, maar sorg ook vir sy twee broers, nadat hulle ouers oorlede is. Sy enigste inkomste is sy onderwyslening, sy broers se SASSA-geld en ‘n bietjie ekstra sakgeld wat hy as kelner verdien.

Dit het alles begin by ‘n oud-hoërskoolonderwyseres van Sebastian wat hom vir Good Morning Angels benoem het. Die program word al vir die afgelope 14 jaar aangebied en is volgens die programbestuurder, Dianne Broodryk, ‘n platform om mense wat hulp nodig het en mense wat hulp kan verleen, bymekaar uit te bring.

Good Morning Angels werk saam met ‘n borg, Roman’s Pizza, wat fondse aan behoeftige mense skenk. Nadat hulle van Sebastian gehoor het, het hulle ‘n bedrag kontant aan hom geskenk om met al sy uitgawes te help.

Volgens Sebastian kom dit nogal handig te pas, want volgende jaar is sy broer, Christo (18) ‘n eerstejaar aan die NWU. Sy jongste broer, Francis (15) is ‘n leerling aan Hoër Volkskool in Potchefstroom.

Die Links-broers: Christo, Francis en Sebastian.

Sebastian is vriendelik en nederig en wanneer jy met hom gesels, kom jy gou agter waarom hy ander inspireer.

Hy vertel dat hy maar 15 jaar oud was toe sy ma, Eva Links, in 2012 gesterf het. Sy pa is reeds in 2008 dood, maar die seuns het hom nie regtig geken nie. Eva was die bestuurder van ‘n drankwinkel op Jan Kempdorp en het haar kinders alleen grootgemaak.

Dit is op die einste dorpie in die Noord-Kaap wat Sebastian op 24 November 1997 gebore is. Volgens hom is Jan Kempdorp ‘n minderbevoorregte gemeenskap waar geleenthede vir die inwoners min en sosiale-maatskaplike probleme baie is – dwelm- en drankmisbruik, tienerswangerskappe, geweld en misdaad is volop.

As ‘n jong tiener het hy vas besluit dat hy nie dieselfde paadjie gaan stap nie en nog aan sy juffrou gesê “Juffie, ek wil iets word en as ek hier bly, gaan dit nie gebeur nie.” Hy het graad 10 tot 12 by Hoërskool Vaalharts op die dorp voltooi en hard gewerk om vir ‘n NSFAS-lening te kwalifiseer. Hy het reeds in sy eerste jaar begin reël dat sy twee broers by hom aansluit en het hulle by Hoër Volkskool ingeskryf.

Sebastian erken dat hy baie verlore gevoel het die dag toe sy ma dood is. “My hele wêreld het tot stilstand gekom. Dit het lank gevat voor die nuus ingesink het. Ek het gewonder wat van my gaan word en het nie hoop gehad nie.”

Dit het ‘n rukkie vir hom geneem voor hy besef het hy is nie alleen nie. “Ek het besef my krag kom van bo. Ek wens meer mense wil besef dat die Here jou bron van lewe is en dat gebed so baie dinge kan verander,” sê Sebastian. Hy sê ook dat daar wonderlike ondersteuning van die Potchefstroom gemeenskap is en sonder graag Hoër Volkskool uit wat hom en sy broers ten volle bystaan.

Sy oud-onderwyseres van Hoërskool Vaalharts wat hom vir die Good Morning Angels-program genomineer het, was reg toe sy gesê het: “Vir my is Sebastian Links ‘n rolmodel. Sy storie moet deur die land gehoor word sodat dit ander kan inspireer. Sy omstandighede en al die berge voor hom het hom nie gekeer nie. Ek is so trots op die kind, of eintlik is hy nou al ‘n man! Ek het soveel respek vir hom.”

* Good Morning Angels is deel van ‘n radioprogram wat elke Woensdagoggend op Jacaranda FM uitgesaai word. Vir die laaste twee weke in die jaar word Good Morning Angels elke oggend uitgesaai. Good Morning Angels word al vir die afgelope 14 jaar aangebied en het in die afgelope jaar al R12 miljoen aan mense geskenk wat dit nodig gehad het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button