News

Wanneer is mens ‘n bejaarde?

Wanneer is mens ‘n bejaarde?

Dustin aan ‘n ander kollega: “Hy is oor 60 so hy is ‘n bejaarde man,”

Hennie, voormalige redakteur van die Herald: “Hey! ek is al oor 60 ek sal myself darem nog nie ‘n bejaarde noem nie,”

Dustin, bietjie rooi in die gesig:  “Nee man Hennie jy is anders,”

Hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n gesprek wat al meer as een keer in die Herald se nuuskantoor opgeduik het. Ons kon net nog nie op die regte antwoord kom nie.

Wanneer word iemand nou as ‘n bejaarde beskryf? Ons is geleer dat iemand oor aftree ouderdom (60) ‘n bejaarde is.

Maar Hennie Stander, my skoonpa, Blackie Swarts en my eie pa, Ronald Wetdewich is almal oor die ouderdom van 60, maar ek kry die persoon jammer wat hulle bejaardes noem.

Die woord bejaarde skets die prentjie van ‘n persoon wat weerloos in ‘n rolstoel sit. Hierdie prentjie van ‘n bejaarde strook nie met die prentjie van die bogenoemde mans nie.

Al drie van hulle soos baie mense wat al oor 60 is, doen nog alles self, as daar gebou of gebreek moet word dan spring hulle in. Soms spring my skoonpa en my pa sommer by my huis ook aan die werk. Dit is eintlik net omdat ek nie juis die mees handige man op aarde is nie.

Is die term bejaarde dan meer gekoppel aan iemand se vermoë om nog op eie stoom besig te bly? Wat van die 80-jariges wat steeds elke dag gaan draf? Is hulle ook nie bejaardes nie?

Ek dink dit is soos iemand in hulle vroeë 30s nie wil aanvaar wanneer jonger mense vir hulle oom of tannie sê nie. Ek kan getuig daarvan. Die eerste keer wat ‘n student my oom genoem het, het ek amper ‘n hartaanval gekry.

Is ek dan so oud? Lyk ek so oud?

Die kort antwoord wat ek steeds nie wil aanvaar nie, is ja. Die hare op my kop is min genoeg en die plooie in my gesig is diep genoeg dat hulle voel hulle moet vir my oom sê.

So kom ons hou dit maklik, wanneer jy oor 60 is, gaan jy as ‘n bejaarde geklassifiseer word. Net soos ek teen my wil as ‘n oom geklassifiseer word.

Behalwe, Hennie en my twee Pas, onthou julle is anders.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button