NewsNews

Duisende verloor oor verkeerde rekeninge

Duisende verloor oor verkeerde rekeninge

Verkeerde rekeningheffings is besig om die JB Marks Munisipaliteit in Potchefstroom en Ventersdorp duisende te kos.

‘n Eiendomsagent in Potchefstroom sukkel al vir maande dat die regte bedrae vir elektrisiteit, water en vullisverwydering van geboukomplekse verhaal word wat hy in Potchefstroom bestuur.

Johan Vermeulen is baie noukeurig in die bestuur van sy geboue en het al talle foute aan die munisipaliteit uitgewys. Dit neem maande voor die regstellings gedoen word en hy sukkel steeds met sommige regstellings.
“Dit is ‘n nagmerrie om by die regte persoon uit te kom. Hulle antwoord nie my telefoonoproepe nie, of sit die foon in my oor neer as ek ongeduldig word,” sê Johan wat ‘n baie noukeurige en eerlike bestuurder is. Een van die geboue wat hy bestuur se rekening het in Julie 2018 van die ontwikkelaar na die beheerliggaam oorgeskuif.

Nadat hy al die nodige papierwerk voltooi het, het hy ‘n rekening ontvang wat glad nie ooreenstem met die getal woonsteleenhede op die perseel nie. JB Marks het te min vir elektrisiteit, vullisverwydering en water gehef.
Nadat die munisipaliteit vir ses maande glad nie vullisverwydering gehef het nie, ten spyte daarvan dat hy gereeld die probleem aangemeld het, het hulle later vir hom ‘n rekening gestuur wat hopeloos te min was. Daar was slegs R159.85 gehef op ‘n gebou wat 26 eenhede gehad het, terwyl die koste per eenheid R62.10 beloop. Die korrekte heffing moes dus R1 614.60 gewees het. In Meimaand het hy weer navraag gedoen oor die lesing van die watermeter wat geskat word. Dié rekening het R361.28 beloop vir ‘n kompleks wat 26 eenhede gehad het.

Hy het al telkemale versoek dat ‘n watermeter by die woonstelgebou geïnstalleer word, maar tot dusver het niemand iets aan die saak gedoen nie. In die tabel (links) word die kostes uiteengesit. Die munisipaliteit het na raming ‘n verlies van R50 975.08 gely omdat die rekening verkeerd gehef is.

 

Die rekening van een van sy ander geboue word ook verkeerd gehef, maar hierdie keer is dit die verlies van die beheerliggaam. Die JB Marks Munisipaliteit hef ‘n geskatte waterrekening vir ‘n bou-watermeter, asook ‘n verbruik- watermeter. Dit is foutief, want ‘n bou-watermeter word alleen geïnstalleer wanneer die boukontrakteur die woonstelkompleks bou.
Wanneer die gebou klaar opgerig is, word die bou-watermeter uitgehaal en met ‘n verbruik-watermeter vervang. Hy het dus ‘n dubbele rekening wat hy moet betaal. Hierdie fout probeer hy al vir die afgelope 12 jaar regstel, maar sonder enige sukses.
In Ventersdorp lyk die situasie meer benard.
Slegs enkele inwoners betaal vir hulle water, terwyl ander inwoners se watermeters nie werk nie of glad nie bestaan nie. Een van die inwoners, wat anoniem wil bly, het ondersoek ingestel en sê dit is onregverdig dat hy water bespaar omdat hy vir sy water betaal, maar sy buurman spuit dag en nag water en betaal nie ‘n sent nie.
Nadat een van die watermeterlesers genader is, het hy geskat dat sowat 80% van die watermeters in Ventersdorp nie werk nie.
William Maphosa, die woordvoerder van die JB Marks Munisipaliteit, erken die agterstand wat daar tans heers met die installering van watermeters.
“Daar is op die oomblik nie genoeg personeel om aandag aan die saak te skenk nie. Dit is egter ‘n belangrike saak wat ons onder die aandag van die direkteur van infrastruktuur, die hoof finansiële beamptes en die munisipale bestuurder sal moet bring,” sê Maphosa.
Hy sê verder dat alle aansoeke vir watermeters na die departement infrastruktuur gestuur moet word. Hulle is vir die prosessering en installasie van die meters verantwoordelik.

 

Related Articles

Back to top button