News

Waar kom die tradisie van kersbome vandaan?

Waar kom die tradisie van kersbome vandaan?

Gebruike voor Christus se geboorte
Lank voor die geboorte van Christus het immergroen plante en bome, veral in die winter, ‘n spesiale betekenis vir mense in die noordelike halfrond gehad.
In die noordelike halfrond is 21 of 22 Desember die kortste dag en die langste nag. Dit word die wintersonstilstand genoem. Hulle het hulle huise in die winter met denne-, spar- en sipresbome versier en immergroen takke by hulle deure en vensters gehang om hulle te herinner dat die somer weer gaan aanbreek.
Mense het geglo die son is ‘n god en kwyn weg in die winter omdat dit siek word. Na wintersonstilstand begin die seisoen draai en word die dae langer en die nagte weer korter. Die songod word dus weer gesond.
Duitsland se invloed
Baie tradisies rondom Kersfees het eintlik in Duitsland ontstaan. Christene het in die 16de eeu al versierde bome in hulle huise gesit. Wanneer bome skaars was, het hulle ‘n piramide uit hout gebou en dit met immergroen takke en kerse versier.
Die Martin Luther legende
Daar word vandag steeds geglo dat die Duitser, Martin Luther die tradisie van kersbome begin het. Die legende word vertel dat hy laat een aand deur die woud huis toe geloop het. Hy het opgelet hoe mooi die sterre deur die takke van die bome skyn en wou dieselfde prentjie vir sy vrou skep. Hy kap toe ‘n sipresboom af en neem dit huis toe. Binne die huis het hy klein verligte kerse op die takke van die boom gesit en gesê dit moet die simbool vir die pragtige Kersfees hemelruim wees.
Die legende van die boom en lig
‘n Ander legende word vertel dat Duitsers vroeg in die 16de eeu twee gebruike, van verskillende lande regoor die wêreld, gekombineer het om die Kersboom te skep. Die boom in die paradys (‘n sipres boom wat met appels versier is) het die Boom van Kennis in die tuin van Eden voorgestel. ‘n Kerslig, ‘n klein raamwerk in die vorm van ‘n piramide wat met glasballe versier en ‘n kers is op die bo-punt geplaas. Hierdie was die simbool van die geboorte van Christus as die Lig vir die wêreld. Appels is later met glas balle en koekies vervang en ‘n lig is op die boonste punt van die boom geplaas.
Koningin Victoria en Prins Albert se invloed
‘n Skets van Koningin Victoria en haar Duitse man, Prins Albert wat saam met hul kinders hande vashou en om ‘n kersboom staan, het in 1846 in die koerant, The Illustrated London News verskyn. Die Kersboom het daarna by Engelse en Amerikaners ‘n tradisie geword.

Het jy geweet?
* Thomas Edison, een van die uitvinders van die gloeilamp, se assistente het met die idee vorendag gekom om elektriese ligte vir kersbome te maak. * Kersbome neem ongeveer ses tot agt jaar om volwassenheid te bereik.
* Die kersboombedryf verskaf werk aan 100 000 mense.
* Met Kersfees is die belangrikste versiering in Meksiko en Guatemala nie die kersboom nie, maar die geboortetoneel van Christus (nativity scene).

BRON: https://www.history.com

Related Articles

Back to top button