NewsNews

Tyd vir tot siens sê

Tyd vir tot siens sê

Wat hulle sal bybly van hul jare in die onderwys, is die liefde, opregtheid en eerlikheid van kinders, want “wat jy vir ‘n kind gee, ontvang jy in veelvoud terug.”
En dit is hierdie mooi herinneringe wat Goof en Elsabe Gresse met hulle saamneem, wanneer hulle na 21 jaar by Parys Primêr ‘n welverdiende aftrede gaan geniet.
Vir Elsabe die einde van ‘n hoofstuk as graad 2 onderwyseres vir die Engelse klas, en vir Goof as natuurwetenskap onderwyser, adjunkhoof, en die laaste 15 maande ook as waarnemende hoof.
‘n Taak wat hy by uitnemendheid vervul het ten spyte van die vele take wat as onderwyser, maar ook in die stoel as waarnemende hoof op sy skouers gerus het.
Vir Goof en Elsabe was die jare by Parys Primêr geseënde jare waarvoor hul dankbaar is.
Dankbaar vir personeel wat hulle as ‘n unieke groep professionele mense beskryf wat altyd kon saamstaan.
Dit was jare waarin hulle hart en siel saamgegroei het met ‘n skool, personeel en leerders.
Jare waarin hulle hul passie vir die onderwys kon uiteef.


Of dit op die sportveld, in die kantoor of klaskamer, op die skoolstoepe, agter die bus se stuur met opgewonde graad 1-gesiggies vol afwagting, of selfs op die parkeerterrein was – daar was altyd tyd vir ‘n vriendelike woordjie, opregte belangstelling, ‘n groot glimlag en bowenal entoesiasme vir elke uitdaging en geleentheid wat aangepak moes word.
Vra jy hulle oor waar die lewe sy draaie deur klaskamers met hulle geloop het oor die afgelope 40 jaar, vertel hulle hoe hulle mekaar op die Bloemfonteinse Onderwyskollege se kampus ontmoet het – sy toe eerstejaar, en hy ‘n tweedejaar.
Bultfontein was die eerste dorp waar hulle sou skoolhou en self nog jonk in die diep kant gegooi is as koshuisouers van 213 graad 1 tot 12-leerlinge.
Vandaar is hulle na Theunissen waar hy ‘n pos as departementshoof gekry het. Elsabe het tussendeur vir ‘n tydjie die onderwys vaarwel geroep om bibliotekaresse en ontvangsdame vir ‘n dokter te wees.
Na tien jaar op Theunissen het Parys einde 1997 hul tuiste geword waar Goof adjunkhoof by Parys Primêr geword het, en sedert September 2018 ook as hoof sou moes waarneem.
Nou gaan hulle rus.
Hulle trek nie weg nie, maar gaan nuwe dinge aanpak en meer tyd saam met hul kinders en kleinkinders geniet. Terwyl Elsabe haar sal uitleef met haar skilderwerk en handwerk, vertel Goof dat hy beslis nie gaan stilsit nie.
Loodglaswerk, sy tuin en houtwerk gaan hom besig hou. Maar een ding is seker – Parys Primêr gaan hierdie twee gesigte op die skoolstoepe mis – en daardie groot glimlag en harte van twee mense wat waarlik die hart en siel van ‘n kind verstaan het.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button