NewsNews

Tande en beweerde afdreiging bring ‘Valke’-man voor die hof

Tande en beweerde afdreiging bring ‘Valke’-man voor die hof

Die spreekwoord lui nie verniet dat kierangtjies sal braai nie.
So het ‘n man wat hom as ‘n lid van die Valke voorgedoen het, terdeë agtergekom na sy afpersingspoging vir geld vir vier olifanttande.
Volgens Valke-woordvoerder, ao. Lynda Steyn, het die hele petalje begin toe ene mnr. Albert Bezuidenhout vier olifanttande waarvoor hy permitte gehad het, in veilige bewaring laat hou het by Sakkie Vermeulen, ‘n sakeman van Parys wat ‘n vervoeronderneming het en stoorgeriewe aan mense bied.
Bezuidenhout het kanker gekry en is in April oorlede.
Vermeulen het toe vir Bezuidenhout se broer, André, gevra of hy die ivoor wil hê.
Volgens ao. Steyn wou André nie die ivoor hê nie, maar het toestemming gegee dat Vermeulen die ivoor kon verkoop.
So het Vermeulen op die spoor gekom van iemand wat die ivoor wettig kon verkoop en het dit toe aan hom gegee. Steyn sê Vermeulen het daarna ‘n oproep gekry van ‘n man wat gesê het dat hy ene kapt. Alberts van die Valke is. Dié het hom laat verstaan dat hy die persoon vir wie Vermeulen die ivoor gegee het, gearresteer het, maar vir hom wat Vermeulen is sal laat gaan as hy hom R30 000 sou betaal en hy wat Alberts is, dan die saak sal laat “verdwyn”.
Vermeulen het egter hond se gedagtes gekry toe Alberts hom besoek het om die omkoopgeld te kom “haal” en plaaslike speurders in kennis gestel.
Alberts wat toe inderdaad nie ‘n Valke-lid was nie, is in hegtenis geneem. Die ivoor is ook deur die polisie in Alberts se huis gekry.
Alberts het verlede week in die landdroshof in Parys verskyn op klagtes dat hy hom as ‘n polisielid voorgedoen het, asook weens omkopery en afdreiging. Hy moes gister (Woensdag 20 November), weer voor die hof verskyn het. Die polisie sê dat nog arrestasies mag volg.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button