NewsNews

‘Ek trou met myself’

‘Ek trou met myself’

Sologamie, die neiging van mense wêreldwyd om met hulself te trou, is glo ’n toenemende tendens. Rita is sover haar kennis strek, die eerste persoon in Vanderbijlpark – moontlik die eerste Suid-Afrikaner – wat met haarself trou. Sowat sewe gaste, insluitend haar broer, Neels Terblanche (60), het die sprokiestroue bygewoon.
Rita het haarself na haar troue in haar eie troukar (wat met wit en geel ballonne en linte versier was) aangery. Sy het omstreeks 12:00 in haar trou-uitrusting by die hotel opgedaag. In haar hand was ’n ruiker van vier goudgeel sonneblomme met ’n protea in die middel. Minute later het Rita haar ring, wat sy spesiaal vir haar “selftroue” ontwerp het, aan haar vinger gesteek. Leonie Gouws, ’n vriendin, het die seremonie gelei. “Ons is vandag hier vir die huweliksbevestiging van Rita met haarself. Julle sal almal saamstem dat sy vandag beautiful lyk. Sy is die mensie met die
warmste hart wat ek in my lewe al ontmoet het,” het Gouws gesê.
Rita is toe gevra om ’n eed en belofte aan haarself af te lê. “Hiermee belowe ek Rita Woodall-Terblanche om van nou af myself na die beste van my vermoë lief te hê, op te pas, vir myself om te gee, myself te respekteer en bo alles aan myself getrou te wees. In die naam van die Almagtige en al die getuies teenwoordig belowe ek.”
Rita het daarna self haar trouring aan haar vinger geglip. Die gebaar is deur ’n luide applous en gelukwensings gevolg. Rita, wat tot onlangs onder inwoners van die Vaaldriehoek as Rita Woodall bekend was, het met die troue ook haar nooiensvan Terblanche teruggeneem. Wat het Rita besiel om
so iets te doen? Sy verduidelik: “Niemand kan jou so liefhê soos wat jy jouself kan liefhê nie. Jy kan ook niemand vertrou soos jy jouself vertrou nie.”
Volgens Rita, wie se laaste man sowat drie jaar gelede oorlede is, het sy nie kans gesien om weer te trou nie. Sy het twee kinders uit haar eerste huwelik en was vir meer as 37 met haar vorige man getroud voor hy dood is.
Sy verduidelik skertsend verder dat die trouring ook lastige mans sal weghou. Daar is glo heelwat mans wat agter haar geld aan is. Rita het sowat twee weke gelede in ‘n restaurant in Vanderbijlpark aan haarself verloof geraak. Rita se broer Neels, vertel dat hoewel hy aan die begin skepties was oor haar selftroue, hy eintlik maar net die beste vir haar wil hê.
* Rita se troue met haarself word nie wetlik erken nie en is grootliks seremonieel. Dit word dus ook nie by die Suid- Afrikaanse Department van Binnelandse Sake geregistreer nie. Volgens Rita gaan sy Bela-Bela (Warmbad) toe vir haar wittebrood. Sy gaan daarna ook ’n draai in Ballito maak waar haar seun woon.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button