NewsNews

Taakspan moet kyk na waterkwessies

Sy het ook aangedui dat ‘n spesiale taakspan, wat uit raadslede en amptenare sal bestaan, aangestel gaan word om Ngwathe se waterkwessies aan te spreek.

Die Ngwathe raad moes verlede Vrydag inderhaas vanjaar se munisipale begroting aanpas om dit wettig te maak. Dit volg nadat die raad vroeër vanjaar die begroting goedgekeur het, ten spyte van ‘n begrotingstekort.
“Die besluit destyds was onwettig, en was boonop gebaseer op onrealisties hoë verwagte inkomste. Die DA het daarteen gestem,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, DA-segsman oor munisipale finansies.
Hy sê die DA het nie alleen daarteen gestem nie, maar ook versoek dat sy individuele teenstemme formeel genotuleer word. Die ANC-meerderheid het egter die begroting goedgekeur, sonder dat die munisipale bestuurder, mnr Bruce Kannemeyer (wat ook die hoofrekenpligtige amptenaar is) die raad ingelig het dat dit wetlik ontoelaatbaar is.

‘n Maand gelede het die Nasionale Tesourie die munisipale bestuurder skerp daaroor tereggewys in ‘n brief wat lees: “…Your failure to comply with the Municipal Finance Management Act is not only disappointing but can have adverse consequences for your municipality if left uncorrected.” Die Tesourie se opdrag was dat Ngwathe dringend die begroting moes wysig sodat alle beplande uitgawes deur verwagte inkomste gedek word.
Op die dringende raadsvergadering verlede Vrydag is wysigings voorgelê om die begroting te laat klop. Dit is deur alle partye gesteun. Rdl. Phillip van der Merwe (VF+) het tydens die vergadering opgemerk dat dit egter nie genoeg is nie, en het hy met syfers aangetoon dat Ngwathe se finansiële posisie steeds, maar nou dramaties, verder verswak.
In slegs die kwartaal van Julie tot September 2019 het krediteure met R142m gestyg. Ngwathe se totale skuldlas beloop nou R1,363 miljard. Hy het toe aangedring dat die raad opdrag gee aan die Finanskomitee om die Eskomskuld en ander groeiende krediteure noukeurig en dringend te ondersoek.

Daaruit behoort dan ‘n reddingsplan, waarby raadslede direkte inspraak moet hê, te vloei. Die DA het sy voorstel gesteun.

“Ngwathe benodig dringend ‘n nuwe herstelplan, om vermorsing te verminder en inkomste te verhoog, byvoorbeeld deur bates soos die Mimosa Tuine te benut,” het Arnold Schoonwinkel gesê.
DA-raadlid Jaco la Cock het gekla oor die waterprobleme in veral Parys die afgelope twee maande. “Amptenare lig die publiek en raadslede nie in oor probleme nie, of praat bont oor die oorsake en oplossings.” Hy het gewaarsku dat inwoners weer begin dreig om hul dienstegeld te weerhou as gevolg van swak diens. Hy het aanbeveel dat die munisipaliteit plaaslike professionele persone raadpleeg oor sy tegniese probleme.
Dit is in die vergadering gesê dat Ngwathe se waterprobleme nie beperk is tot Parys alleen nie, maar dat meeste dorpe in die munisipale gebied tans sukkel met waterprobleme. “Die hele gebied se waterdienste moet dringend ondersoek en op standaard gebring word. ’n Taakspan behoort vir hierdie doel aangestel te word,” het rdl. Van der Merwe gesê.
Burgemeester Joey Mochela en ANC-hoofsweep Philemon Ndayi het die finansiële ondersoek gesteun, en dit is daarna eenparig, saam met die begrotingswysigings, deur die raad aanvaar.
Rdl. Mochela het aangekondig dat die Finanskomitee bygestaan sal word deur die Begrotingsoorsigkomitee. Sy het reeds aangedui dat Raadslede Phillip van der Merwe (VF +) en Arnold Schoonwinkel (DA) opposisiepartye op die vergrote komitee sal verteenwoordig, en sou vandeesweek die ander lede van die komitee aanwys.

Sy het ook aangedui dat ‘n spesiale taakspan, wat uit raadslede en amptenare sal bestaan, aangestel gaan word om Ngwathe se waterkwessies aan te spreek.

Die foto van hoe die water lyk wat uit krane in die dorp kom, is vandeesweek weer deur ‘n inwoner van Parys gedeel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button