NewsNews

Randwater toe die sondebok

Maar help gou om probleem reg te stel.

Erg gefrustreerde Heilbronners was onlangs vir bykans vyf dae sonder water gelaat weens probleme met die toevoer van water vanaf Randwater se pompstasie by Sasolburg.
Om sake verder te vererger, het die hooftoevoerlyn vanaf die Phiritona opgaardam na die plotte opgaardamme, waaruit ‘n groot deel van die dorp water kry, terselfdertyd ‘n groot pypbreuk opgedoen wat die munisipaliteit genoodsaak het om die stopkraan na die lyn toe te draai.
Volgens Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe, was die breuk onder ‘n bruggie by die Frankfortpad. Die sloot wat water vanaf die bruggie moet wegvoer was heeltemal toegegroei en het veroorsaak dat die pyplyn onder water was, wat weer herstelwerk daaraan bykans onmoontlik gemaak het.
Gelukkig het ‘n behulpsame plaaslike kontrakteur tot die redding gekom en ‘n slootgrawer beskikbaar gestel om die afvoersloot oop te grawe om so die opgedamde water te dreineer sodat die pyp gelas kon word.
Met ‘n besoek deur rdl. Van der Merwe, ander raadslede, munisipale beamptes en tegnici van Randwater aan die opgaardamme kort hierna is vasgestel dat die invloei in die opgaardam vanaf die Randwater pylyn gelyk was aan minder as 2 megaliter per dag, terwyl die lewering ongeveer 8 megaliter per dag behoort te beloop.
Ngwathe se tegniese direkteur, mnr. Thobela, het daarvandaan die beamptes van Randwater vergesel na die punt waar water uit die pyplyn vir Kragbron afgetap word. Alhoewel Kragbron slegs 4 megaliter water per dag behoort te ontvang, is vasgestel dat die betrokke klep inderdaad ‘n vloei van 6 megaliter per dag vir Kragbron deurgelaat het. Die klep is onmiddellik verstel om die fout reg te stel.
Hierna het mnr. Thobela die Randwater beamptes verder vergesel na Randwater se pompstasie in Sasolburg. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die twee pompe in die stelsel slegs ‘n vloei van 8 megaliter per dag gepomp het, terwyl die lewering in totaal 12 megaliter per dag behoort te wees.
Daar is ook vasgestel dat een van die pompe, hoewel dit loop, in effek geen water pomp nie. Randwater het onderneem om ook dit onmiddellik reg te stel en sou binne twee en ‘n half uur ‘n nuwe pomp geïnstalleer en in werking hê. Randwater het sy woord gestand gedoen en met vloeimeting by die opgaardamme die volgende oggend is ‘n vloei van 7,2 megaliter per dag bereken.
Noodwendig moes die hele waterpypnetwerk eers vol loop voordat alle inwoners weer water sou hê, maar teen die volgende dag het die meeste se krane weer gevloei.
Terwyl die waternetwerk droog was, het plaaslike organisasies ingespring en watertenkers beskikbaar gestel waar inwoners noodvoorraad kon tap. Inwoners met boorgate het ook hulp en water aangebied. Rdl. Van der Merwe sê inwoners is baie dank verskuldig aan almal wat onbaatsugtig die nood help verlig het. Daar is egter steeds waterprobleme in die Phiritona woonbuurt. Dit kom volgens rdl. Van der Merwe voor asof die dele van die dorp wat wel water kry, die water net so vinnig gebruik as wat Randwater dit kan lewer met die gevolg dat die hoofopgaardam se vlakke nooit bo ongeveer 30% styg nie. Die opgaardam se vlak moet egter bo 50% wees voordat daar genoeg drukking is om dele van Phiritona, wat hoog geleë is, te kan voorsien. Installering van ‘n drukpomp word tans oorweeg om water na die geaffekteerde dele te pomp, maar intussen is inwoners steeds afhanklik van water wat met tenkwaens aangery moet word.

Inwoners van Phiritonia wag vir die watertenkwa. Foto’s: Verskaf.

Related Articles

Back to top button