NewsNews

Misdaad: So verloor ‘n dorp ‘n deel van sy geskiedenis

Misdaad: So verloor 'n dorp 'n deel van sy geskiedenis

‘n Soliede bronsplaat – dalk nie veel werd vir die een wat dit weggedra het of die skroothandelaar wat dit waarskynlik gekoop het nie. Maar dié plaat wat vanoggend (Woensdag 30 Oktober) eenvoudig van die mure van die museum verwyder is, was  deel van die dorp se geskiedenis.

So lyk die bronsplaat wat destyds aan die Parys Museum oorhandig is toe dit tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Nou is dit, eenvoudig van die museum muur verwyder waarskynlik om as skrootmetaal verkoop te word.

Iets wat nooit weer vervang kan word nie,  want met hierdie plaat is die Parys-museumgebou in 1984 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Dalk het jy dit nie raakgesien waar dit net regs van die museumdeur vasgesit was nie, maar toe daar twee weke gelede  ‘n  visuele uitstalling van die Vredefort Koepel by die Parys-museum geopen is wat  vir die eerste keer ‘n volledige en wetenskaplike uiteensetting gee van een van die wêreld se oudste en grootste meteoriet impakkraters, is die plaat spesifiek deur gaste opgemerk.

Die naweek was die bronsplaat nog daar. Nou is dit net die sement teen die muur wat die stille getuienis is van wat misdaad aan ‘n dorp doen waar koper en brons items daagliks by huise en besighede weggedra word. Baie daarvan van groot sentimentele waarde. Tog kom hierdie misdadigers en dié wat dit koop daarmee weg.

Gazette het ook onlangs berig van die staalstawe by die hangbrug – een van die dorp se grootste toerisme aantreklikhede, wat ook gesteel en aan ‘n skroothandelaar verkoop is.

Hiermee dan ‘n ernstige beroep op die gemeenskap en veral handelaars om bedag te wees op goedere soos die museum se bronsplaat wat geloop en smous word.

Meer oor die museum:

Die gemeenskap van Parys wou hul erfenis bewaar en so het die gedagte aan ‘n museum vir die dorp in 1973 ontstaan. Maar eers drie jaar later is daar begin om items vir die museum te versamel en is die ou landdroskantoor wat in 1904 opgerig is, voorlopig as museum ingerig.

In die vroeë tagtigerjare is die museum  geopen en kort daarna, in 1984,  tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Die museum het toe nog onder die bestuur van die Vrystaatse Museumdiens geval en het burgemeester JJ Danhauser  die museum  in die laat tagtigerjare formeel geopen. Die gebou is deur die argiteksfirma Gordon, Verhoef en Krause gerestoureer.

Die gebou het egter later so agteruitgegaan dat dit gesluit moes word omdat daar nie meer fondse was vir instandhouding nie.

Danksy Iris Andrew se jarelange toewyding en ongelooflike deursettingsvermoë waarmee sy nooit tou opgegooi het nie, is die museum later weer heropen en met tye oopgestel vir die publiek. Sy het sedertdien afgetree, maar volg Iris se dogter Diane in haar spore met dieselfde toewyding om saam met vrywilligers uit die gemeenskap hierdie erfenisjuweel te bewaar en met besoekers aan die dorp te deel.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button