NewsNews

Rowers slaan toe in Drie Riviere-Oos

Rowers slaan toe in Drie Riviere-Oos

VEREENIGING. – Die spogbuurt van Drie Riviere-Oos was onlangs in rep en roer ná nog ’n inwoner en sy gesin helder oordag tydens ‘n rooftog by hul huis aangeval is. Rick Genis (69), ’n apteker van die buurt wat tydens die voorval herhaaldelik met ’n koevoet gemoker is, beskryf die voorval as ’n “home invasion.” Dit het aan die einde van September sommer helder oordag omstreeks 13:30 die middag gebeur. Hy was toevallig by die huis.

Volgens Rick het die rowers met ’n 5-reeks BMW by sy huis opgedaag, oor die hek geklouter en toe van die binnekant van die erf die hek met ‘n koevoet van die spoor af probeer lig. Hulle het die elektriese boks oopgebreek voor hulle daarin kon slaag om die hek oop te kry. Die mans het die tuinwerker gegryp en daarna na sy ma se woonstel op die erf gegaan. “My ma is reeds 92 jaar oud. Sy staan toe daar en probeer hulle met ’n bottel Target spuit. Hulle het haar gegryp, waarna een van hulle met sy knieë op haar bors gestaan het,” vertel Genis. Intussen het die ander twee mans die huishulp gegryp. Hulle het haar gedwing om aan die deur te klop. Rick se vrou Elize, het opgestaan om te gaan oopmaak. “Toe sy die deur oopmaak, storm die man die huis binne. Hy het op haar geskree: ‘You bitch!’,” vertel Rick. “My vrou lê toe daar op die naat van haar rug en toe spring ek en die ou aan mekaar. Ek het hom twee keer uit die huis gegooi gekry.” Rick het intussen vir Elize gesê om sy pistool te gaan haal. Die man het intussen daarin geslaag om Rick se skootrekenaar te gryp en uit die huis te hardloop. Met sy 9mm pistool in hand, is Rick na sy ma se woonstel. Hy het op pad daarheen die rowers se wit BMW in die oprit gesien. “Ek storm toe op die persoon af maar hy slaan toe die deur toe.

Terwyl ek met my pistool teen die ruit slaan, het die ander twee my aangeval,” vertel Rick. Die een was met ’n koevoet en die ander met ’n oranje pyp gewapen. “Toe reën die houe. Hulle het geslaan om my dood te slaan.” Rick se arms is blou geslaan soos wat hy probeer keer het. Nadat hulle hom verskeie kere oor die kop geslaan het, het Rick geval. Hy het sy vuurwapen in die proses laat val, waarna een van die mans die wapen gegryp het. “Hy het die vuurwapen op my gerig en my probeer skiet, maar die vuurwapen is ’n enkel-aksie (die hand moet eers teruggetrek word). Daar gebeur toe gelukkig niks.” Die mans het daarna besluit om te vlug. “Van die bure het my later vertel dat hulle ’n skoot hoor klap het. Ek vermoed hulle het daarna met die vuurwapen in die kar gepeuter, waarna ’n skoot afgegaan het,” sê Rick. Hy moes agterna verskeie steke kry. Hy sê hy is dankbaar dat hy tydens die voorval by die huis was, sodat hy sy vrou kon beskerm. Volgens hom was die polisie ook vinnig op die toneel. Kapt. Fikile Funda, ’n polisiewoordvoerder in Vereeniging, sê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button