NewsNews

Skole vier op 7 November buitelugklaskamerdag

Buitelugklaskamerdag is ‘n wêreldwye beweging wat onderwysers en kinders inspireer om buite te speel en te leer.

Buitelugklaskamerdag is ‘n wêreldwye beweging wat onderwysers en kinders inspireer om buite te speel en te leer. Vanjaar val hierdie besondere dag op Donderdag, 7 November wanneer duisende skole regoor die wêreld lesse buite die klaskamers aanbied.

Rina Vogler, ‘n voormalige Tukkies-dosent in opvoedkunde wat steeds baie by omgewingsopvoeding betrokke is, wil skole aanmoedig om by hierdie inisiatief betrokke te raak. Volgens haar is die vars lug baie goed vir die leerlinge en is hulle meer entoesiasties om iets nuut te leer wanneer hulle leeromgewing buite is. Dit leer hulle ook om meer van die natuur in hulle direkte omgewing bewus te word.

Rina Vogler is ‘n opvoedkundige wat by omgewingsopvoedkunde betrokke is.

“Dit moet die skool glad nie ekstra onkostes beloop of reëlings verg om so ‘n projek te loods nie. Die onderwysers moet met die leerlinge aktiwiteite op die skoolterrein aanpak”, sê sy en noem verskeie interessante voorbeelde van lesse wat selfs wiskunde interessanter kan maak. “Jy kan byvoorbeeld ‘n 4 meter tou neem met spykers om aan leerlinge vorms soos vierkante, reghoeke en driehoeke te verduidelik. Daarna kan die leerlinge byvoorbeeld ook ‘n opname maak van die verskillende tipes insekte wat in die ruimte van die vorm voorkom”, vertel sy entoesiasties.

Rina gebruik ook ‘n voorbeeld van ‘n wonderlike projek wat ‘n opvoedkundige van die Noordwes Universiteit inisieer het. Hillary de Villiers het saam met haar studente ‘n leesprojek by Laerskool Loula Fourie, ‘n plaasskooltjie net buite Potchefstroom, begin waar leerlinge in die buitelug lees. Borge het later sementtafels, -stoeltjies en sambrele geskenk om hulle leeservaring meer gemaklik maak.

Nie alleen kan skole by hierdie projek betrokke raak nie, maar organisasies en verenigings kan ook ‘n bydrae lewer. So kan die voëlkykklub byvoorbeeld vir kinders die voëls op die skoolterrein laat identifiseer en prikkel om eendag voëlkykers te word.

Skole kan ook op ‘n webwerf registreer om meer informasie te kry. Besoek gerus die webwerf https://outdoorclassroomday.co.za/.

Rina is so entoesiasties oor die buitelugklaskamerdag dat sy bereid is om ‘n fasiliteerder vir interessante projekte te wees. Onderwysers en organisasies kan haar kontak by 082 576 5975. Daar is ook oulike idees vir buitelugprojekte aanlyn beskikbaar – https://outdoorclassroomday.co.za/resources/outdoor-library/.

Related Articles

Back to top button