News

Groot skade na veldbrande

Boere in die omgewing het die afgelope paar weke groot skade as gevolg van veldbrande gely.

In een van die voorvalle moes inwoners onlangs dae lank spook om ‘n reusebrand op die plaas van mnr. Wynand Dorfling in die Welverdiend-omgewing te blus.
“Die brand het Dinsdag omstreeks 06:00 begin en ons het tot gisteraand om 21:00 gespook om dit te blus,” het Dorfling verlede Vrydag aan die Herald vertel.
Ongeveer 4 000 hektaar weiding op die plaas het afgebrand. Volgens Dorfling sou die skade egter baie groter gewees het as baie mense van die omgewing hulle nie gehelp het om die vuur te blus nie.
“Ek het nie gedink daar is soveel mense van Carletonville, Welverdiend en selfs Fochville wat ons sou help nie. Baie boere in die omgewing het ons ook hulp aangebied. Die dominees en myne het ook gehelp. Die verkeershoof, die area se raadslid en die burgemeester was ook hier. My oë is vol trane. Ons wil almal hartlik bedank,” sê hy.
Gelukkig het geen diere doodgebrand nie. Volgens ‘n woordvoerder van die twee brandbeskermingsverenigings (BBV’s) in die omgewing, die Gatsrant BBV, wat in die Carletonville en Welverdiend-omgewing aktief is, en die Fochville BBV, het veldbrande net tot einde September altesaam R 1 903 950 se skade in die omgewing aangerig. Meer as R1,8 miljoen van dié skade was in die Gatsrant-omgewing.
Hierdie statistieke sluit egter nie al die veldbrande wat in die omgewing plaasgevind het in nie, omdat alles nie gerapporteer is nie omdat nie alle grondeienaars lede van hul plaaslik geregistreerde Brandbeskermingsverenigings is nie. Dié organisasies, waaraan alle grondeienaars moet behoort, stuur maandeliks statistiek oor veldbrande na die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en ander nasionale instansies deur en help om brande te voorkom. Die BBV’s help nie net om brande te bestry nie, maar help ook met die maak en instandhouding van brandbane. Dit help ook met opgeleide helpers, toerusting en beskermende klere, sou ‘n brand op ‘n lid se plaas of hoewe uitbreek. Die organisasies help ook om mense wat nie by wetgewing om brande te voorkom hou nie, te beboet.
“Geen brande mag op eiendomme gemaak word alvorens die regte wetsprosedures en kommunikasiekanale nie gevolg is nie. In hierdie tydperk van die seisoen word geen brande toegelaat nie, aangesien die daaglikse brandgevaarlesings wat aan die Brandbeskermingsverenigings deurgegee word, rooi lesings deurgee en brande verbied. Brandbane moes reeds einde Julie in plek gewees het. Munisipale brandweer bywette is ook van toepassing en boetes goedgekeur wat selfs die brand van vullis, asgate en storting van brandbare materiale verbied wat `n brandgevaar kan inhou,” sê die voorsitter van die Gatsrant BBV, mnr. Tom Visser.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button