NewsNews

Midvaal-herrie: Belastingbetalers moet opdok vir ‘burgemeester se regskoste’

Midvaal-herrie: Belastingbetalers moet opdok vir ‘burgemeester se regskoste’

MEYERTON. – Die DA-beheerde Midvaal Plaaslike Munisipaliteit is gekap oor ’n raadsbesluit waarvolgens belastingbetalers nou sal moet opdok vir ’n lastersaak waarin die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se burgemeester, rdl. Bongani Baloyi, hom tans bevind.
Thom Peeters, adjunk-munisipale bestuurder van die munisipaliteit, het vroeër ’n lastereis van R10 miljoen teen Baloyi in sy persoonlike hoedanigheid, maar ook as burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, ingestel nadat Baloyi glo in aanloop tot die nasionale
verkiesing op verskeie platforms vir Peeters daarvan beskuldig het dat hy geld van mense geneem het in ruil vir munisipale betrekkings.
Peeters voer in hofstukke aan dat ’n stelling wat deur Baloyi gemaak is, waarin hy gesê het dat Peeters onregmatiglik werk aan ’n prokureursfirma vir wie sy vrou gewerk het, toegeken het, vals is.
Die ander stelling waarop Peeters Baloyi aanvat is ’n bewering wat deur Baloyi gemaak is dat Peeters op spesiale verlof geplaas is oor sy betrokkenheid by beweerde korrupsie met die toekenning van betrekkings.
Peeters meen die bewerings is van alle waarheid ontbloot, het sy reputasie geskaad en eis nou R5 miljoen op elkeen van die klagtes. ’n Besluit wat op ’n onlangse raadsvergadering van die DA-beheerde munisipaliteit geneem is om R500 000 opsy te sit vir Baloyi se regskostes, het kritiek van
opposisiepartye ontlok.
Die Vryheidsfront Plus se Corrie Pypers het die afgelope week in ’n verklaring gesê die party is gekant teen die raadsbesluit en meen dat hierdie soort hofgeding tussen individue deur hulself betaal moet word.
Hoewel die kostes tans R500 000 beloop meen Pypers die bedrag sal uiteindelik veel hoër wees. Die speaker, rdl. Freddie Peters, het by navraag die raadsbesluit om geld opsy te sit vir die hofsaak, bevestig. Peters het verduidelik dat die burgemeester in sy amptelike hoedanigheid as burgemeester gedagvaar word en dat die munisipaliteit derhalwe besluit het om vir Baloyi in die bres te tree.
Peters het bygevoeg dat die hof met die afhandeling van die saak later sal besluit of Baloyi persoonlik aanspreeklik is vir die regskostes, of die munisipaliteit.
Peters het ter verduideliking die voorbeeld gebruik van verkeersbeamptes wat van tyd tot tyd gedagvaar word in die uitvoering van hul amptelike pligte en dat hulle dan deur die munisipaliteit bygestaan word. Peeters het verlede week by navraag gesê dat hy nie in hierdie stadium kommentaar oor die aangeleentheid kan lewer nie omdat die saak tans sub judice is en hy boonop ’n werknemer van die munisipaliteit is. Hy betaal sy eie regskoste in die saak.

Thom Peeters, die adjunk-munisipale
bestuurder van die Midvaal Plaaslike
Munisipaliteit, sleep die burgemeester,
Bongani Baloyi, hof toe vir laster.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button