NewsNews

Bybelarmoede so aangespreek

Suid-Afrika het sowat 23 miljoen Bybels nodig. So sê onlangse navorsingstudies. Maar weet jy dat daar 5% van Christenhuishoudings in Suid-Afrika is wat steeds glad nie ‘n Bybel het nie. Baie huishoudings het dalk net een Bybel en benodig meer vir ander gesinslede. En dit is die rede waarom daar weer fiets getrap gaan word vir …

Suid-Afrika het sowat 23 miljoen Bybels nodig. So sê onlangse navorsingstudies.

Maar weet jy dat daar 5% van Christenhuishoudings in Suid-Afrika is wat steeds glad nie ‘n Bybel het nie.

Baie huishoudings het dalk net een Bybel en benodig meer vir ander gesinslede.

En dit is die rede waarom daar weer fiets getrap gaan word vir Bybels

Die jaarlikse Bybeltrap van Parys  oor Welkom na Bloemfontein vind die naweek van 21 en 22 Februarie 2020 plaas.

Die doel is om, bykomend tot die algehele jaarlikse Bybelverspreiding, twee miljoen Bybels en twee miljoen stelle Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies beskikbaar te maak.

Nie net sal dit help om Bybelarmoede aan te spreek nie, maar sal dit ook ‘n groot bydrae lewer tot die geletterdheidsbehoefte in die land.

Volgens Statistieke Suid-Afrika leef 30,4 miljoen Suid-Afrikaners in armoede. Een uit elke drie Suid-Afrikaners leef op ’n inkomste van minder as R797 per maand. Vir een uit elke sewe Suid-Afrikaners beteken armoede gebrek aan voedsel. Hulle moet op R441 of minder per maand oorleef.

Suid-Afrika is onder die top 20 lande in die wêreld met die hoogste werkloosheidsyfer. Volgens die jongste beskikbare syfers is 27,2% van die ekonomies aktiewe bevolking in Suid-Afrika werkloos.

Basiese onderrig in Suid-Afrika skiet ver tekort. ’n Onlangse studie het bewys dat Suid-Afrika ’n massiewe geletterheidsprobleem in die gesig staar. Die studie het bevind dat vier uit vyf graad 4-leerders se leesvermoë laer is as die internasionaal aanvaarbare standaard. Suid-Afrika het laaste uit 50 lande in die “Progress in International Reading Literacy Study (Pirls)” gekom.

Deur projekte soos die Bybeltrap word die Bybel in die hande geplaas van mense wat dit broodnodig het, maar dit nie kan bekostig nie.

Terwyl kinders, waarvan sommige uit minderbevoorregte huise kom, die nodige lees- en skryfvaardighede bemeester, sal hulle ook op ’n vroeë ouderdom van Jesus en die Bybel hoor.

Baie kinders wat die geletterdheidsboekies ontvang, kom uit gesinne waar die ouers ook nie kan lees nie. Die kinders sal die boekies huis toe neem en moontlik die ouers leer lees.

 Hoe kan jy help?

R200 000 000 word benodig vir die befondsing van hierdie projek wat van 23 Augustus 2019 tot 23 Augustus 2021 duur. Elke R100 wat ontvang word, sal die verspreiding van een Bybel en ’n stel Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies moontlik maak. Sal jy help?

Belangstellende  fietsryers wat deel van hierdie projek wil wees  is welkom om Dawie Bornman te kontak by 056 811 4864 of stuur ‘n  boodskap na 083 263 3848

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button