News

Vier stemme smelt saam om unieke klank te skep

Vier stemme smelt saam om unieke klank te skep

One Voice, Suid-Afrika se gunsteling nuwe musiek Evas, het pas hul eerste album vrygestel en musiekliefhebbers is behoorlik opgewonde oor die vooruitsig om meer van hierdie vier talentvolle dames te hoor. Die groep, wat beskryf kan word as vier unieke stemme wat saamgesmelt het om ’n vars en unieke popklank te skep, se eerste enkelsnit, Droomplaneet, is reeds besig om die radiogolwe oor te neem.
Droomplaneet is ’n opgewekte Afrikaanse popsnit uit die pen van Lientjie Sothman. Dit is ’n goedvoel-liedjie oor die emosies wanneer jy verlief is. Die polsende ritme wat jou uitnooi om saam te dans, sluit perfek by hierdie sorgvrye tema aan.
“Ons hoop dat wanneer gehore hierna luister dit hulle sal terugvat na die tyd toe hulle vir die eerste keer verlief geraak het en dat dit hulle vir ’n oomblik weer so sal laat voel,” sê One Voice. Die groep se debuutalbum bestaan uit nege lekkerluister-liedjies, insluitend Droomplaneet, wat spog met moderne klankverwerkings (in Afrikaans en Engels), asook lirieke en temas waarby die publiek beslis sal aanklank vind. Ses van die snitte is splinternuwe oorspronklike werke wat beloof om aan elke musieksmaak te voldoen. Indrukwekkende weergawes van die bestaande treffers,
Sucker, Ugly Heart en Secret Love Song, vorm ook deel van die album se speellys.
One Voice, wat bestaan uit Kalinka Kilian, Carla Strauss, Karma Coetzer en Janke Bester, het in 2018 ontstaan nadat die meisies besluit het om hul musiektalent te kombineer om iets ongewoon met die plaaslike mark te deel. Die groep is passievol oor musiek en straal ’n besonderse energie uit wanneer hulle op die verhoog is. “Ons naam verteenwoordig die feit dat al vier van ons iets uniek in ons stemme het, maar wanneer ons saam sing
kom alles mooi bymekaar om een stem weer te gee. En ons almal het een doel met ons musiek – om wêreldwyd bekendheid te verwerf en nog baie suksesvolle albums en radiotreffers uit te bring,” sê die meisies.
Hulle beskou hul eerste album as die hoogtepunt van One Voice se loopbaan sover en sê dat hulle mekaar se grootste inspirasie is. “Hoewel ons mekaar nog nie lank ken nie, het ons dadelik gekliek en kom ons baie goed oor die weg. Saam wil ons vir onsself ’n plekkie in die musiekbedryf
vestig en ons droom, om musiek te maak vir ’n lewe, bewaarheid. Voor elke optrede bid ons saam, want sonder die Here sou ons nie hierdie wonderlike geleentheid om ons droom uit te leef, gehad het nie.”

vier stemme,

Related Articles

Back to top button