News

Ses hoor eers in 2020 hul lot

Saak weer uitgestel.

Die ses mans van Parys wat aangekla is van die moord op  Samuel Tjixa en Simon Jubeba sal nou eers in 2020 hoor wat hul lot is.

Dit nadat regter Corné van Zyl vanoggend in die Hoë Hof in Parys ‘n opsomming van nog een van die 204 getuies, Wikus van der Westhuizen, voorgelees het, en toe die hof verdaag het tot  in  Maart 2020 wanneer sy haar uitspraak sal gee. Die hofdatum is bepaal vir 17-20 Maart.

Daarna sal die hof weer van 6-9 April sit vir voor vonnisoplegging prosedures  en vonnisoplegging  sal dan van 28-30 April geskied.

Regter Van Zyl het voordat sy die hof verdaag het, weer gesê dat die verhoor wat nou al bykans vier jaar sloer, gekenmerk was deur vele oponthoude en dat sy dit so spoedig moontik wil afhandel. Sy het gesê dat dit ongelukkig ‘n baie lang uitspraak is weens die lang getuienis wat in die hof gehoor is en heelwat regsaspekte wat aangespreek moet word.

Sy het ook aangedui dat sy Muller van der Westhuizen se getuienis (nog een van die 204-getuies vir die staat), sal hanteer saam met die ander 204 getuienisse wanneer die hof weer in Maart 2020 sit.

Al die beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren, ontken skuld op die klagtes van moord. Boeta en Loedie is ook aangekla van regsverydeling.

Die staat het in sy saak aangevoer dat die beskuldigdes Tjixa en Jubeba sodanig op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip sou aangerand het dat hul kort daarna in die Parys en Pelonomi hospitale onderskeidelik aan hul beserings sou beswyk het. Die oorledenes is vasgetrek nadat ‘n groot aantal mense gereageer het op ‘n noodroep van Loedie van der Westhuizen na ‘n plaasaanval op sy plaas Biesiesbult, ook in die Weiveld-distrik. Hy is sedertdien oorlede.

Tydens vandag, Donderdag 17 Oktober se hofsitting is slegs die getuienis van Wikus van der Westhuizen deur regter Van Zyl opgesom, nadat sy sedert Dinsdag ook die getuienisse van Johan (Ouboet) Cilliers, Gawie Coetzer en Fanie Oosthuizen opgesom het. Beide Oosthuizen en Coetzer het ook as 204 getuies vir die staat getuig.

Regter Van Zyl het uit Wikus van der Westhuizen se getuienis voorgelees wat sy weergawe was van die  gebeure die dag op Swartklip ten opsigte van die beskuldigdes, maar  ook sy eie en Muller van der Westhuizen se aandeel daarin.

Volgens sy getuienis het niemand op die toneel fisies probeer om die aanrandings stop te sit nie en was die polisie ook nog nie op die toneel toe hy daar weg is nie.

Tydens sy getuienis het Wikus verskoning gevra aan die familie van die oorledenes vir die gebruik van die K-woord wat telkens in stemboodskappe wat van homself en Muller van der Westhuizen in die hof gespeel is, gehoor is.

In die kru-stemboodskappe vertel Muller onder meer wat hy op die toneel gedoen het.

Regter Van Zyl het in haar opsomming van die getuienis van Wikus van der Westhuizen gesê dat hy ‘n afgewaterde weergawe gegee het van wat Muller op die toneel sou gedoen het, en dat dit nie versoen kan word met ‘n vredemaker soos wat Fanie Oosthuizen onder meer Muller beskryf het nie.

Dit is net een van die teenstrydighede wat reeds uitgewys is uit getuienisse van die 204 getuies

In een van Wikus se stemboodskappe aan sy pa wat ten tyde van die voorval in Nieu Zeeland was, en wat vroeër in die hof gespeel is,  sê Wikus, “Moenie worry ou Bul, ons het mooi, mooi, met hulle gepraat”.

In n ander stemboodskap sê hy dat die mans reeds goed “opgef*k” was toe hy daar gekom het.

 

 

Related Articles

Back to top button