NewsNews

Plaaslike atletiekafrigter met kokaïen betrap

Plaaslike atletiekafrigter met kokaïen betrap

Een van Potchefstroom se top atletiekafrigters wat beide uitstaande skool -en nasionale atlete afrig het skuld beken dat hy kokaïen besit het.

Werner Burger (41) het in ‘n beëdigde verklaring vanjaar op 17 September in die hof skuld beken en ook ‘n meegaande boete (R 6000) betaal. Burger het ook volle berou vir sy besluit in dié verklaring gelewer.

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes het bevestig dat Burger skuld beken het op die aanklag van die besit van ‘n dwelmmiddel en dat hy op 2 Januarie 2018 in hegtenis geneem is.

Burger is volgens sy verklaring op (nuwejaarsaand) met kokaïen betrap nadat hy en sy vriende by ‘n kuierplek in Potchefstroom gaan kuier het. Lede van die SAPD het Burger nadat hy die kokaïen gaan koop het, afgetrek en die dwelm (1.18g kokaïen) by hom gevind.

Burger is tans verbonde aan die Noordwes Universiteit (NWU) as atletiekafrigter en rig ook ‘n klomp atlete van Potchefstroom Gimnasium af. Burger is ook ‘n oud-Gimmie.

Burger se atlete sluit onder andere die naelloper, Chederick van Wyk, meerkampatleet, Joné Kruger, en 400m atleet Ariane Nel, in.

NWU Sport sou gisteraand vir hom ‘n toekenning as een van die afrigters van die jaar by hulle toekenningsfunksie gegee het, maar dit is terruggetrek na aanleiding van die ondersoek wat tans plaasvind.

Louis Jacobs, NWU-woordvoerder het vanoggend gesê, dat die universiteit bewus van Burger se skuldbekentenis is. “Ons werknemersverhoudinge-kantoor is besig met ‘n tugproses. Die moontlikheid van tydelike skorsing hangende die afhandeling van die ondersoek is deel van die proses wat nou aan die gang is.

Potchefstroom Herald het vir Burger vir kommentaar genader, maar hy het teen dit besluit om tans kommentaar oor die foon te gee.

Related Articles

Back to top button