NewsNews

Vaaldam word nie vol brandewyn maar wel ‘ertjiesop’

Vaaldam word nie vol brandewyn maar wel ‘ertjiesop’

DENEYSVILLE. – “As die hele ou Vaaldam vol brandewyn was, wie wil dan water hê?” So lui die ou studenteliedjie, en dit lyk asof die Vaaldam se water nou inderdaad in iets anders verander het, maar beslis nie brandewyn nie. Van ‘n afstand af lyk dit meer na ‘n dik, groen ertjiesop – totdat jy nader staan en besef dié “sop” is beslis nie eetbaar nie.
Hengelaars langs die Vaaldam het verlede naweek gerapporteer dat die water vir omtrent 15 tot 20 meter vanaf die oewer grasgroen was en ‘n paar dooie visse het plek-plek rondgelê. Elaine Rodgers, ‘n aanbieder op IFM 102.2, sê sy hengel gereeld by Hartbeesfontein aan die dam, maar
dit was die ergste toestand waarin sy die water nog ooit gesien het.
Sy het na haar hengeluitstappie aan Vaalweekblad gesê sy het gesien hoe visse heeltyd uit die water opspring. Sy vermoed dit is omdat hulle nie behoorlik suurstof kan inneem in die dik, slymerige gemors nie.
“Die slyk is so dik, as jy ‘n klippie in die water gooi, maak die nie eers ‘n ring nie,” sê sy. “Die groen gemors het die volgende dag van die wal af wegbeweeg, dieper die dam in, maar dit was steeds baie sigbaar as jy met ‘n motorboot op die water uitgegaan het. Daar was min skoon kolle water
in die Vaaldam te sien.”
Elaine het ‘n stuk afvallyn uit die slyk getrek waaraan stukke toiletpapier vasgeklou het. Dit laat haar vermoed dat rou riool in die water beland het.
“Dit is bitter hartseer dat so min aan die probleem met ons waterbronne gedoen word. Mense strooi net hul rommel langs die oewer en wanneer hulle oppak om te ry, los hulle eenvoudig net hul gemors daar en dit beland in die water. Soveel rou riool word gestort en dit is besig om te wys in die natuurlewe. Wat sal vir ons nageslag oor wees om te geniet, om nie eers te praat van ons drinkwater wat opraak nie,” sê Elaine.
Vaalweekblad het die foto’s en waarnemings aan SAVE the Vaal Environment en Rand Water gestuur, wat albei onderneem het om dadelik ondersoek in te stel.
Dit het lanklaas in die Vaaldam se opvanggebied gereën en die watervlak staan volgens Rand Water tans op 53.3%, wat nie besonder laag vir dié tyd van die jaar is nie. Hengelaars meen die gebrek aan vars nuwe water wat invloei, skep dalk die ideale toestande vir alge om meer as normaalweg te floreer. Vaalweekblad wag amptelike kommentaar van waterkundiges in en sal volgende week terugvoer gee.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button