NewsNews

Soweto skuld ESKOM glo R17 miljard – kry steeds krag gratis

Soweto skuld ESKOM glo R17 miljard – kry steeds krag gratis

Luidens ʼn verslag van die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) wat aan die Gauteng-wetgewer se CoGTA-komitee voorgelê is, skuld Soweto Eskom meer as R17 miljard wat die helfte van die land se skuld aan Eskom beloop.

Die inligting het verlede maand aan die lig gekom toe ‘n woordvoerder van die VF Plus, Amanda de Lange, dit by wyse van ‘n verklaring bekendgemaak het.

Volgens De Lange, is “die wanbetalingskultuur van elektrisiteitsverbruikers in Soweto seker die grootste oorsaak dat Eskom feitlik op sy knieë gedwing is”.

Soweto se wanbetaling duur reeds jare lank en politici probeer sonder veel sukses om kragverbruikers te oorreed om gedeeltes van hul skuld te betaal. Dreigemente om die kragtoevoer af te sny dien ook geen doel nie. Inwoners hou vol die ANC het in hul verkiesingsbeloftes aan kiesers gratis elektrisiteit en water belowe. Die kultuur van nie-betaling het nou ʼn nalatenskap van die ANC-struggle geword.

Intussen worstel die nasionale kragvoorsiener om finansieel te oorleef en het in 2018 ʼn laagtepunt beleef. Die situasie word vererger deur ander nie-betalers, fiskale ongerymdhede, bedrog en wanbestuur.

Dit wil voorkom asof Eskom ook geen werkbare plan het om die R34 miljard in te vorder wat onderpresterende munisipaliteite aan hom skuld nie.

Daarbenewens is Eskom se operasionele kapasiteit ook nie na wense nie en ongeoorloofde tariefverhogings oor jare, het geen verligting gebring nie.

“Verdere druk word op die betalende middelklasburger geplaas om die skuldlas en verantwoordelikhede van nie-betalers en onderpresterende munisipaliteite te dra in ʼn omgewing waar munisipaliteite se skuldlas die afgelope agtien maande met sowat 80% gestyg het,” meen Amanda de Lange.

Alhoewel die ANC-regering ‘n reddingsboei aan die skuldgeteisterde Eskom probeer uitgooi, is die fiskale en operasionele skade reeds baie groot en is daar min hoop dat ‘n volhoubare finansiële ommekeer bewerkstellig kan word. ʼn Aksieplan om Soweto se agterstallige skuld op ʼn dringende basis in te vorder, is donker.

“Die kwessie is ‘n kopsorg vir die departement van samewerkende regering, maar daar moet streng maatreëls in plek geplaas word om te midde van toenemende verarming van verbruikers alternatiewe kragvoorsiening aan huishoudings te lewer,” sê De Lange.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button