NewsNews

Meer as 64 hofdae en vele uitdagings

Die saak is tot 18 Oktober op die hofrol

Bykans vier jaar na die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeba, begin die verhoor van die ses mans wat vir hul dood aangekla is, ’n einde nader.
Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, kapt. Henk Prinsloo, Loedie van der Westhuizen, Cor Loggenberg en Miela Janse van Vuuren, staan almal tereg op twee klagte van moord, terwyl Boeta van der Westhuizen en Loedie van der Westhuizen ook aangekla is vir regsverydeling. Al 6 het onskuldig gepleit op die klagtes.
Regter Corné van Zyl het in aanloop tot haar uitspraak, met die begin van die verrigtinge Dinsdag in die Hoë Hof in Parys, ‘n opsomming gegee van die agtergrond wat tot die gebeure gelei het en getuienis wat in die 64 dae wat die saak alreeds voor die hof was, gehoor is.
Sy het gesê dat die saak gekenmerk was deur, om die minste te sê, vele uitdagings waaronder ook veranderings aan die regspan.
Die staat het in sy saak aangevoer dat die beskuldigdes Tjixa en Jubeba na bewering sodanig sou aangerand het op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik, dat hul kort daarna aan hul beserings in die Parys en Pelenomi hospitale onderskeidelik beswyk het.
Tjixa en Jubeba was deur ‘n groep mans aangekeer na ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen (sr.) op die plaas Biesiesbult. Die sogenaamde arrestasietoneel op Swartklip was net sowat 3km van Loedie sr. se huis. Loedie sr. is intussen in die meer as drie jaar wat die verhoor duur, oorlede.
Regter Van Zyl het Dinsdag die getuienis van Ouboet Cilliers behandel, asook die getuienis van Gawie Coetzer wat as die eerste 204 getuie geroep was. Sy het gewys op aspekte in Coetzer se getuienis waaroor daar vrae was. Daarna is die hof verdaag tot Woensdagmiddag. Die saak is op die hofrol geplaas tot Vrydag 18 Oktober.
Johan Myburgh en adv. Piet Pistorius tree namens Boeta van der Westhuizen op, Johan Vorster tree op vir Anton Loggenberg, adv. Dawie Reyneke verskyn vir kapt. Henk Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen, terwyl adv. Hennie du Plessis namens Miela Janse van Vuuren verskyn

Bo is Anton Loggenberg en Boeta van der Westhuizen, met kapt Henk Prinsloo en Cor Loggenberg in die middel en Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren onder.

Related Articles

Back to top button