NewsNews

Opgeskorte vonnis na neef se dood

Opgeskorte vonnis na neef se dood

VANDERBIJLPARK. – ’n Jong man wat in 2017 die dood van sy neef veroorsaak het toe hy hom by ’n karaoke-kuierplek in die dorp met die vuiste bygedam het, is Donderdag 26 September in die landdroshof in die dorp onskuldig bevind op aanklag van moord en strafbare manslag. Hy sal nie tronk toe gaan nie.
Francois Byleveldt is wel ’n opgeskorte vonnis opgelê nadat hy op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind is.
Hy het in die hof erken dat hy sy neef, Wimpie Koekemoer (30), op 28 Oktober 2017 drie keer met die vuis bygedam het nadat laasgenoemde glo in
sy gesig gespuug het. Dit het gevolg nadat Byleveldt en die karaokesanger in ‘n onsinnige stryery oor “musiekregte” betrokke geraak het.
Nadat Byleveldt vir Koekemoer geslaan het, het laasgenoemde omgekap en sy kop teen ‘n potspeltafel gestamp.
Die oorledene het op geen stadium terugbaklei nie. Koekemoer het bloeding op die brein opgedoen. Sy toestand het versleg en hy is later in die Sebokeng-hospitaal dood. Byleveldt was ten tye van die voorval ’n gr. 11-leerling, maar het intussen skool verlaat en werk nou by ‘n konstruksiemaatskappy.
Landdros Robert Button het Byleveldt tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, maar die vonnis op die aanklag van aanranding in geheel vir vyf jaar opgeskort op die voorwaarde dat Byleveldt hom gedurende die volgende vyf jaar nie skuldig maak aan aanranding of poging daartoe nie.
Button het tydens vonnisoplegging benadruk dat Byleveldt vrygespreek is op aanklagte van moord en strafbare manslag omdat die nodige opset- en
nalatigheidselemente ontbreek het.
Die staat het ter strafverswaring aangevoer dat die oorledene die pa van vyf kinders was (hulle ouderdomme is onderskeidelik 13, 11, 9, 6 en 3). Hoewel Koekemoer geskei was, was hy steeds die broodwinner vir sy kinders. Button het gesê: “Om ’n vonnis op te lê is altyd ‘n moeilike aangeleentheid. Die publiek in die algemeen verstaan nie die doel van vonnis nie. “Vonnis en weerwraak is twee aparte konsepte. Die hof vonnis nie ‘n persoon om wraak te neem nie. Die misdaad word gestraf en ’n verskeidenheid van faktore word in aanmerking geneem.”
Button het tydens vonnisoplegging aan die beskuldigde gesê: “Om u tronk toe te stuur gaan sinneloos wees. “Geen vonnis in hierdie wêreld gaan
die man terugbring nie. U het oorhaastig opgetree op die betrokke dag en ek glo nie enige iemand, wat daar teenwoordig was tot na die gebeure van die voorval en veel later, het besef dat daar noodlottige gevolge gaan intree nie,” het Button gesê.
Button meen dat alhoewel Byleveldt aanvanklik “arrogant” tydens sy eerste verskyning voorgekom het, dit lyk of hy besin het oor sy optrede.
Volgens Button was Byleveldt eerlik sonder om in sy getuienis die hof te mislei.
Hy is ook ’n eerste oortreder met geen rekord nie. Button het die voorval as tragies beskryf en gesê dit sal soos ’n swaard oor Byleveldt se kop hang.
Hy het gesê hy hoop dit Byleveldt en die publiek ’n les uit die saak sal leer: “Mens klim nie altyd met jou vuiste in nie. Hierdie gevolge kan ernstig wees en kan nie herstel word nie.”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button